Hamilton bo in Frankryk, res volg in skaduwee

Mercedes se Lewis Hamilton (middel) vier sy oorwinning op die podium in Le Castellet in die suide van Frankryk. Links is Valtteri Bottas wat die tweedeplek behaal het en regs die derdeplekwenner, Ferrari se Charles Leclerc van Monaco (23 Junie 2019). (Foto: AP Photo/Claude Paris)

Dè, vat so!

Dit was na alle waarskynlikheid wat Lewis Hamilton (Mercedes) Sondagmiddag in Le Castellet, Frankryk, kon gesê het nadat hy kat en muis met sy mederenjaers gespeel en toe die Franse Formule Een- Grand Prix op meesterlike wyse gewen het.

Maar Hamilton sal hom nie wend tot sulke venynighede nie, want hy het niks om te bewys nie en sy ongelooflike vertoningslys spreek vanself.

Dit was een van Hamilton (34), wat in die eerste posisie weggespring het, se maklikste oorwinnings, want hy het gewen in 1:24:31.198 en het 18.056 sekondes voor sy spanmaat, Valtteri Bottas, geëindig.

Hulle is gevolg deur Charles Leclerc (Ferrari), Max Verstappen (Red Bull), Sebastian Vettel (Ferrari) en Carlos Sainz (McLaren).

Dit was Hamilton se sesde oorwinning in agt renne vanjaar, sy vierde een in ʼn ry en sy 79ste loopbaanoorwinning.

Dit was ook sy tweede sege op die Paul Ricard-baan.

Dit mag wel afsteek by Michael Schumacher se agt seges in die Franse Grand Prix, hoewel al sy oorwinnings op Magny-Cours behaal is en Hamilton dus “onoorwonne” op Les Castellet is.

Kan iemand nog vanjaar teen Hamilton se oorheersing stry? Dit nadat hy sy voorsprong bo Bottas tot 36 punte op die kampioenskapspuntelys vergroot het?

Mercedes se Lewis Hamilton (links) stuur sy motor tydens die Franse Formule Een Grand Prix by die Paul Ricard-renbaan in Le Castellet in Frankryk (23 Junie 2019). (Foto: AP Photo/Claude Paris)

Maar dan, hoekom sou Hamilton tong na die renbase wou uitsteek?

Omdat hy tweede weke gelede in Montreal in Kanada tweede geëindig het, maar eerste geplaas is nadat Vettel met vyf sekondes gestraf is vir sy “onveilige” rywerk nadat hy van die baan gejaag het en voor Hamilton ingesny het.

Dis nie hoe Hamilton wou wen nie, want net soos al die ander jaers, wil hulle niks op ʼn skinkbord hê nie.

Die aksie verskuif volgende week na Oostenryk vir die Oostenrykse Grand Prix op die “Red Bull Ring”.

Dié vinnige baan, met sy lang pylvak, kan in die Ferrari-span se guns wees, maar afgesien van Vettel wat Sondag in die laaste rondte die vinnigste rondtetyd opgestel het, is daar nog nie te veel vir die ander spanne om oor huis toe te skryf nie.

Vettel het ná Sondag se ren gesê dit was die plan om die gaping tussen hom en Hamilton te vernou, maar dit was nie moontlik nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cuda ·

Hoe kan ‘n sport wat soveel geld kos, so agteruit gaan. Merc kompeteer nou al vir +/- 5 jaar net teen hulle self kompiteer met ‘n sekonde voordeel bo enige ander span . Sodra iemand durf kompeterend wees, word red tape gebruik om dit ook dood te maak. Die sport wat ek so mal oor was, gaan homself dood maak. Waar is die dae toe enige van 6 of 7 bestuurders kon wen…. mis die dae van V8 + V12 only

Koos ·

Cuda, het jy dieselfde gesê tot Ferrari jaar in en uit gewen het, en voor hulle was dit Maclaren se beurt? Die rede vir Mercedes se sukses is eenvoudig. Hulle konsentreer op die renne en nie oor ander dinge nie. Daar is tans geen persoon wat Hamilton se talent het nie en sy kar is tops. Vettel se kop smokkel met hom. Hou egter Leclerk en Verstappen nog steeds dop.

Cuda ·

Koos, glo my as Ferrari ondersteuner ek ek destyds ook nie gehou van dominante Ferrari nie. Ek ondersteun F1 sedert 1975. Na Schecter vir Ferrari gewen het in die 70’s het hulle eesr sukses genier met Schumacher. Ek was mal oor die sport toe as het Ferrari nie titels gewen nie. Dit was wiel tot wie renne. Jy moet saam stem dat F1 tans geen aantrekkings krag het nie en gaan baie ondersteuners verloor. Ek sê weer ek mis die 70’s ,80’s, 90’s en selfs die 2000’s. Selfs Schumacher moes ver teen Mika, Hill, Alonso, ens. Hamilton het een opponent…. hartseer

Fingirtik ·

Kuda… moeti worri oori spel nie.. ek kan bryl lees. ???? Wed jou jy het jou foon / tablet gebruik. Ek is self so vies as ek iets gepos het en vingerfoute gemaak het. Groete!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.