Herleef Schumacher se gloriedae in Netflix-program

Michael Schumacher (19 Oktober 2006) (Foto: AP Photo/Daniel Maurer, File)

“Ek was altyd trots daarop om met die swakste toerusting te wen en nie die beste nie,” het Michael Schumacher gesê. En dit som hom eintlik perfek op: Die doodgewone Duitser wat uiteindelik vir buitengewone dinge bestem was.

Netflix het gister hul dokumentêre program oor die legendariese F1-renjaer se lewe bekendgestel.

Schumacher skilder ’n prentjie van ’n komplekse dog briljante individu – iemand wat daarvan hou om te wen, wat tweestryde links en regs aanknoop (vra maar vir Damon Hill en Mika Hakkinen) en wat adrenalien-aksie najaag, maar terselfdertyd ook ’n skaam privaatmens wat sy gesin op die hande dra.

Soos die mense wat hom goed ken sê: Hy het nog nooit van die roem of media-aandag gehou nie, hy wou net agter die stuur van ’n renmotor wees.

“Hy is die liefdevolste mens wat ek nog ooit ontmoet het. Ek onthou ek het een keer vir hom ’n ete vir sy verjaarsdag gereël en hy was die enigste persoon wat my agterna gehelp het om op te ruim. Ek het onmiddellik geweet dat hy ’n baie spesiale persoon is,” het sy vrou, Corinna, in een van die insetsels gesê.

Jean Todt en Michael Schumacher vier sukses op die renbaan. Foto Patrick Hertzog/AFP.

Ná sy sukses saam met die Benetton-renspan het hy aanvanklik by Ferrari gesukkel; die podiumplekke was daar, die wêreldtitel het hom net knaend ontwyk.

Vir die perfeksionistiese Schumacher was daar net een uitweg: Om sy moue op te rol en harder as enigiemand anders te werk.

Soms het hy om 08:00 vir die eerste toetslopie in sy Ferrari weggetrek, net om die enjin vir oulaas om 20:00 af te skakel. Sy span was mal daaroor om hom by te staan, want as jy help om die entoesiasme-vuur in ander te stook, sal hulle enigiets vir jou doen. En dit boonop ook nog geniet.

Nóg ’n sege agter die stuur van ’n Ferrari. Foto: Don Emmert/AFP.

Toe hy uiteindelik in 2000 sy eerste wêreldtitel agter die stuur van ’n Ferrari gewen het, was dit asof ’n groot las van sy skouers af was. Skielik het hy weer met die vryheid van ouds bestuur – die talentvolle renjaer wat sy hart volg en nie sy frustrasie nie.

“Michael was vreesloos op die renbaan en almal het dit geweet. Jy het nooit gesien dat hy vir enigiets of enigiemand terugstaan nie,” het Bernie Ecclestone, voormalige F1-baas, gesê.

Ná sy finale uittrede het hy adrenalien nagejaag – van duiksessies tot valskermspronge in Dubai. Maar in 2013 het die noodlot getref toe hy ernstige hoofbeserings tydens ’n ski-ongeluk in die Franse Alpe opgedoen het.

Volgens Corinna was sy aanvanklik kwaad, maar sy het nooit die Here vir Schumacher se ongeluk blameer nie; dit kon met enigiemand gebeur het.

Corinna en Michael Schumacher. Foto: Eric Gaillard/AFP.

“Natuurlik mis ek Michael daagliks, maar hy is steeds hier. Anders, maar steeds hier en dit is wat vir ons krag gee. Ons is saam, ons leef saam en ons doen alles in ons vermoë om dinge vir hom beter te maak.”

Schumacher het nog altyd van privaatheid gehou en sy gesin probeer om so normaal as moontlik met hul lewens voort te gaan.

“Michael het ons altyd beskerm. Nou is dit ons beurt om hom te beskerm.”

Volgens Sebastian Vettel is daar niemand soos Michael Schumacher nie. En baie mense sal met die Aston Martin-renjaer saamstem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Martin ·

Dit is n’ briljante program. Alhoewel ek ook ‘n Senna ondersteuner was, is Schumacher nog al die jare vir my die mees gebalanseerde F1 drywer van alle tye. Vandag se sirkus kom nie naby die Glorie dae van die 90’s en 2000’s nie.

jou gewete ·

jy som dit perfek op. Senna was goed maar soos sommige helde net altyd die beste kar gehad. Niemand maar niemand in die geskiedenis van F1 het ooit soos Michael met swakker karre wedrenne en kampioenskappe gewen nie. Jammer ek kan nie die program sien nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.