Het Djokovic ook Serena-rekord in visier?

Serena Williams en Novak Djokovic. Foto: William West/AFP.

Dit is alombekend dat Novak Djokovic daarvan droom om eendag die manstennisspeler met die meeste Grand Slam-titels nóg agter sy naam te wees. Gister se sege in die eindstryd van die Australiese Ope het sy plan ongetwyfeld ’n welkome hupstoot te gee.

Die wêreld se voorste speler het vinnig met Rusland se Daniil Medvedev klaargespeel. Die eindtelling was 7-5, 6-2 en 6-2.

Die 33-jarige Serwiër blaas nou met sy 18 titels in Roger Federer (20) en Rafael Nadal (20) se nekke. Maar dit is duidelik dat hy na selfs groter hoogtes mik.

“Ek wil nader aan Roger en Rafa se Grand Slam-rekord kom. Dan dink ek ook aan Serena Williams en Margaret Court se prestasies,” het Djokovic ná gister se eindstryd gesê.

Williams het 23 Grand Slam-seges agter haar naam, terwyl Court vir ’n ongelooflike 24 keer die silwerware omhoog gehou het.

“Ek dink natuurlik daaraan om nog rekords te verbeter. Al my aandag – tot op die dag wat ek my uittrede aankondig – sal daarop toegespits wees om meer trofees te wen.”

Hy het ook vir Federer en Nadal vir hul bydrae tot die sport geloof.

“Hulle inspireer my. Ek dink so lank as wat hulle aanhou, sal ek ook aanhou om te speel. Dit is amper ’n resies om te sien wie die lankste kan speel en die meeste toernooie wen.”

Maar is Djokovic goed genoeg om van sy drome te bewaarheid?

Goran Ivanisevic, sy afrigter, glo dat dit binne sy vermoë is.

“Hy het gister maar net weer eens vir almal gewys waartoe hy in staat is. Ek het al vantevore voorspel dat Novak en Rafa eendag Roger se rekord sal verbeter en ek hou steeds voet by stuk,” het Ivanisevic gesê.

“Ek weet nie waar alles gaan eindig nie. Dalk verbeter hulle Serena se rekord, wie weet? Maar dit is ongelooflik om hulle in groot wedstryde dop te hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Casper ·

Ek dink Serena is tans die oudste speler wat nog kompeterend meeding en teen Usaka was sy nie meer so beweeglik en skerp nie.Ek dink haar oorheersing in grand slam toernooie is stellig verby tensy sy my verkeerd kan bewys. Nie sy of Federer of Nadal sal hoef werk te soek as hulle uittreë nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.