Hongaar speel maklik met Chad-aanslag klaar

Chad le Clos hou die vordering van sy teenstanders dop. Die Suid-Afrikaner het vyfde in die 200 m-vlinderslagitem geëindig. Foto: Anton Geyser/SASPA.

Chad le Clos het weliswaar die derde vinnigste kwalifiserende tyd geswem om sy plek in die eindronde van die 200 m-vlinderslagitem te bespreek, maar hy kon nie sy heldedade van die 2012-Spele in Londen herhaal nie.

Kristof Milak, die jong Hongaarse swemsensasie, het die Olimpiese rekord in die item na 1:51:25 verbeter; Le Clos was vyfde met sy tyd van 1:54:93.

Die Suid-Afrikaner het uitstekend weggespring en was selfs die voorloper ná 100 m van aksie, maar Milak het die krane behoorlik in die pylvak oopgedraai om uiteindelik verspot maklik te wen.

Die Hongaar se wentyd was meer as twee sekondes vinniger as Tomoru Honda se silwermedaljepoging van 1:53:73.

“Ek het werklik goed in die water gevoel en in ’n stadium het ek selfs gedink ek kan wen, maar oor die laaste 50 m wou my bene net nie saamspeel nie,” het Le Clos gesê.

“Dit is maar alles deel van die lewe. Die afgelope jaar het vir soveel tragedie gesorg en hierdie (teleurstelling) is niks in vergelyking daarmee nie, maar dit maak steeds baie seer.”

Volgens Le Clos is hy egter trots daarop om in sy derde 200 m-vlinderslageindronde by die Olimpiese Spele te swem.

Die 29-jarige swemmer het ook onlangs daaraan begin dink om uitsluitlik op korter en vinniger items te konsentreer, maar ná vandag se teleurstelling is daardie planne vir eers ter syde gestel.

“Ek sal terug wees. As ek gewen het, was dit dalk ’n ander storie, maar ek kan nie dinge op hierdie manier afsluit nie.”

  • Le Clos is weer môre om 12:56 in die uitdunrondes van die 100 m-vlinderslagitem in aksie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Antoinette ·

Soos mens ouer word, word jou kragte minder. Ons bly baie trots op hom.

tweeling ·

Ek stem en onregverdig om te dink Chad (29 jaar oud) kan na 9 jaar teen ‘n jong Hongaar (21 jaar oud) ordentlik kan kompiteer

E ·

Ja swem is ‘n bittere fikse sport, en dan not die stress van die epidemie. Mense se gedagtes is by hulle geliefdes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.