Jamaika lyk na kampioenspan teen Silwer Varings

(Foto verskaf deur SPAR)

Jamaika het vandag veral die krane in die vierde kwart oopgedraai om Nieu-Seeland met 59–48 in ʼn aksiebelaaide Wêreldbeker-wedstryd in Kaapstad te oorrompel.

Jhaniele Fowler en haar spanmaats het sodoende ʼn uitspeelstryd-reddingsboei in Suid-Afrika se rigting gegooi; nou moet die Proteas net later vanmiddag ordentlik met Uganda afreken om hul podiumdroom aan die gang te hou.

Maar terug na Nieu-Seeland.

Nadat die verdedigende kampioen Woensdagaand gelykop teen die Proteas gespeel het, het hulle nou vir die eerste keer die onderspit teen Jamaika in ʼn Wêreldbeker-wedstryd gedelf.

“Dit is ʼn bitter pil om te sluk en ons sal beslis ʼn bietjie selfondersoek moet doen,” het Ameliaranne Ekenasio, kaptein van die Silwer Varings, ná afloop van die kragmeting gesê.

“Al wat ons nou kan doen, is om saam te staan; ons land en ondersteuners verdien beter van ons op die baan.”

Fowler was nou veral ʼn kolos onder die doelpaal en die Kiwi-verdedigers was magteloos om haar te stuit. Die speler, wat 1,98 m in haar sokkies staan, was in ʼn stadium in die kol met al 49 van haar doelpogings.

Indien Suid-Afrika later vandag met Uganda afreken, sal doelverskil bepaal watter span na die bekeruitspeelrondes deurdring.

  • Die Proteas speel om 16:00 teen Uganda.

Telling ná elke kwart:

Eerste kwart: 15–11 in Jamaika se guns

Tweede kwart: 26–23 in Jamaika se guns

Derde kwart: 41–39 in Jamaika se guns

Vierde kwart: 59–48 in Jamaika se guns.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.