Japannees klink Zverev se doppie

Japan se Taro Daniel. Foto: Tim Nwachukwu/Getty Images/AFP.

Japan se Taro Daniel het ʼn vuurwarm vertoning gelewer toe hy vir Alexander Zverev met 6-0 en 6-4 in die Miami-Ope geklop het.

Daniel sorg deesdae vir ʼn paar opskuddings – hy het tydens die Indian Wells-toernooi ook met Italië se Matteo Berrettini afgereken.

Volgens die Japannees, wat 97ste op die ATP-ranglys is, het Zverev nou met sy ritme in die eerste stel gesukkel en hy het daaruit munt geslaan.

“As tennisspeler doen jy soms jou bes om te sorg dat die ander speler aanhou sukkel. Ja, dit klink sleg om só iets te sê, maar dit is hoe dit is,” het Daniel ná afloop van hul tweestryd gesê.

“Soms begin ʼn mens om die een of ander rede net wedstryde wen. My plan is om op ʼn meer gereelde grondslag as oorwinnaar van die baan te stap.”

Zverev is weliswaar nog op die herstelpad nadat hy verlede jaar sy enkel in die halfeindstryd van die Franse Ope teen Rafael Nadal beseer het.

Die voormalige wêreldnommertweespeler het tot die kwarteindstryd van die onlangse Indian Wells-toernooi gevorder waar hy teen Daniil Medvedev vasgeval het.

  • Uitslae:

Taro Daniel klop Alexander Zverev met 6-0 en 6-4

Holger Rune klop Marton Fucsovics met 6-3 en 7-5

Dusan Lajovic klop Maxime Cressy met 6-4 en 7-6

Carlos Alcaraz klop Facundo Bagnis met 6-0 en 6-2

Grigor Dimitrov klop Jan-Lennard Struff met 4-6, 7-6 en 6-4

Taylor Fritz klop Emilio Nava met 6-4 en 6-1

Jannik Sinner klop Laslo Dere met 6-4 en 6-2

Andrey Rublev klop JJ Wolf met 7-6 en 6-4

Aryna Sabalenka klop Shelby Rogers met 6-4 en 6-3

Sorana Cirstea klop Caroline Garcia met 6-2 en 6-3

Varvara Gracheva klop Ons Jabeur met 6-2 en 6-2

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.