Jong Amerikaner stuit Nadal in sy spore

Frances Tiafoe het vir Rafael Nadal in New York uitgeskakel. Dit was die Spaanse legende se eerste Grand Slam-nederlaag van die jaar. Foto: Angela Weiss/AFP.

Frances Tiafoe het meer energie as die Duracell-hasie op ʼn tennisbaan en hy het gister ʼn barshou gespeel om vir Rafael Nadal in New York uit te skakel.

Die 24-jarige speler het die Spaanse legende met 6-4, 4-6, 6-4 en 6-3 geklop om na die volgende rondte van die Amerikaanse Ope deur te dring.

“Ek is verskriklik bly; eintlik is ek amper in trane. Ek het vandag ongelooflike tennis gespeel en ek weet eerlikwaar nie hoe dit gebeur het nie,” het Tiafoe ná die wedstryd gesê.

Tog het die senuwees ook maar lekker tydens die wedstryd geknaag.

Die jong Amerikaner kon nog nooit ʼn wedstryd – om nie eens van ʼn stel te praat – teen Nadal wen nie en hy erken dat hy by tye baie loodvoetig op die baan was.

In die vierde stel het die Spanjaard ʼn voorsprong van 3-1 opgebou, maar Tiafoe het doodeenvoudig net nie handdoek ingegooi nie en hy het vyf potte op ʼn streep gewen om die stel én die wedstryd te beklink.

“Mense het baie van my verwag toe ek destyds op die toneel verskyn het. Ek was toe nie volwasse genoeg nie, maar ek het in die afgelope paar jaar baie as ʼn speler gegroei.”

Hy is ook vol lof vir sy afrigterspan.

Wayne Ferreira, die voormalige Suid-Afrikaanse speler, het hom gister vanuit sy pawiljoensitplek aangemoedig.

“Ek kan op ʼn wonderlike span steun en ek kan deesdae net die spel geniet waarvoor ek so lief is,” het Tiafoe gesê.

En Nadal?

Dit was Nadal se eerste Grand Slam-nederlaag in 2022. Foto: Sarah Stier/Getty Images/AFP.

Dit is die eerste keer in 16 agtereenvolgende Grand Slam-toernooie waar hy nie ten minste tot die kwarteindstryd gevorder het nie.

“Ek moet terug na die oefenbaan en hard aan dinge gaan werk. Tans weet ek nie mooi wanneer ek weer sal speel nie,” het die 36-jarige wenner van die Australiese en Franse Ope gesê.

Tiafoe is 12 jaar jonger as Nadal en volgens die Spanjaard begin ouderdom ʼn rol in sy wedstryde te speel.

“Ek het gesukkel om hom op die agtervoet te plaas. As jy nie op die regte plek op die baan is nie, moet jy baie jonk en baie vinnig wees om by die bal uit te kom. En ek kan dit ongelukkig nie meer doen nie.”

Uitslae:

Jannik Sinner klop Ilya Ivashka met 6-1, 5-7, 6-2, 4-6 en 6-3

Frances Tiafoe klop Rafael Nadal met 6-4, 4-6, 6-4 en 6-3

Andrey Rublev klop Cameron Norrie met 6-4, 6-4 en 6-4

Aryna Sabalenka klop Danielle Collins met 3-6, 6-3 en 6-2

Iga Swiatek klop Jule Niemeier met 2-6, 6-4 en 6-0

Karolina Pliskova klop Victoria Azarenka met 7-5, 6-7 en 6-2

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.