Jong talent laat Norma glimlag

Elmeré van der Berg en Nichole Taljaard vier fees op die baan teen Nieu-Seeland. (Foto: Twitter/Netball SA)

Woensdagaand se gelykop uitslag teen die Silwer Varings het gewys dat die Proteas nie net met die bestes in die wêreld kan saamgesels nie, maar ook oor die potensiaal beskik om met die topspanne af te reken.

Suid-Afrika se skitterende verdedigers het ʼn paar keer omgekeerde balbesit teen die Nieu-Seelanders bewerkstellig en beter afrondingswerk kon dalk vir selfs groter glimlagte gesorg het.

Tog verdien ʼn gelykop uitslag teen gedugte teenstanders ná ʼn uitstekende terugvegpoging beslis ʼn groot klop op die skouer.

Nodeloos om te sê is afrigter Norma Plummer trots op haar span en sy het veral die jonger spelers uitgesonder. Nichole Taljaard het onder meer gewys dat sy sterk in ʼn drukkokersituasie kan staan toe sy in die kol met ʼn baie belangrike doel net vóór die einde van die wedstryd was.

“Die jonger spelers het veral hul teenwoordigheid op die baan laat geld. Kyk net na Nichole – sy is vir die tweede keer op ʼn streep as die speler van die wedstryd aangewys. Hulle pluk die vrugte van hul harde werk,” het Plummer gesê.

Om ʼn tweede plek in die groep te verseker sal die Proteas nie net later vandag ordentlik met Uganda moet afreken nie, maar hulle sal ook duim vashou dat Jamaika pakslae teen die Kiwi’s uitdeel.

Danksy Jhaniele Fowler se vaardighede spog Jamaika met die meeste doele in Groep G van die toernooi, terwyl die Kiwi’s weer die minste doele in die groep afgestaan het.

Groep G-punteleer:

  1. Jamaika: 8 punte
  2. Nieu-Seeland: 7 punte
  3. Suid-Afrika: 5 punte
  4. Uganda: 4 punte
  5. Wallis: geen punte
  6. Trinidad en Tobago: geen punte

Uitslae:

Sri Lanka 60 – 56 Barbados

Suid-Afrika 48 – 48 Nieu-Seeland

Jamaika 89 – 26 Trinidad en Tobago

Uganda 73 – 56 Wallis

Zimbabwe 68 – 40 Singapoer

Vandag se bepalings:

09:00: Australië teen Engeland en Wallis teen Trinidad en Tobago

11:00: Jamaika teen Nieu-Seeland en Fidji teen Skotland

16:00: Suid-Afrika teen Uganda

18:00: Tonga teen Malawi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.