Lara vierde ná Ruta wêreldrekord laat spat

Argieffoto van Lara van Niekerk. (Foto: Anton Geyser/Gallo Images)

Met ʼn medalje op die spel kon Suid-Afrika se Lara van Niekerk nie op haar goeie vertoning in die halfeindronde van die 50 m-borsslagitem by die Wêreldswemkampioenskap in Foekoeaka voortbou nie.

Die jong Pretorianer moes met ʼn vierde plek in die eindronde ná Ruta Meilutyte, Lilly King en Benedetta Pilato met haar tyd van 30.09 tevrede wees.

Haar tyd in die halfeindronde was 29.91; ʼn poging wat haar die silwermedalje in die eindronde sou besorg het.

Ruta Meilutyte van Litaue het weer eens haar klas onderstreep toe sy vir ʼn tweede agtereenvolgende keer ʼn wêreldrekordtyd geswem het.

Die 26-jarige swemmer het die resies in ʼn blitsige tyd van 29.16 voltooi; aansienlik vinniger as haar halfeindrondepoging van 29.30.

Van Niekerk is die Statebondkampioen in dié item nadat sy verlede jaar water in haar teenstanders se oë met ʼn spoggerige tyd van 29.73 in Birmingham geskop het.

Meilutyte het egter gewys dat sy die gunsteling is om Olimpiese goud in Parys te smaak.

  • Uitslag van die 50 m-borsslageindronde:
  1. Ruta Meilutyte: 29.16
  2. Lilly King: 29.94
  3. Benedetta Pilato: 30.04
  4. Lara van Niekerk: 30.09
  5. Anita Bottazzo: 30.11
  6. Qianting Tang: 30.22
  7. Satomi Suzuki: 30.44
  8. Eneli Jefimova: 30.48

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.