Leclerc bevraagteken Ferrari-strategie

Charles Leclerc. Foto: Twitter.

Wanneer iemand met die hande in die hare sit – volgens die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal – weet die betrokke persoon nie meer mooi wat om te doen nie.

As jy egter na ’n beter verduideliking vir die uitdrukking soek, hoef jy eintlik net na Charles Leclerc te kyk.

Nog ’n blaps (dié keer in Hongarye) het die Ferrari-renjaer weer van ’n gewisse podiumplek beroof. Hy was immers vinniger as spanmaat Carlos Sainz en hy het in die 31ste ronde van die wedren vir George Russell verbygesteek om die voortou te neem.

Maar om die een of ander rede is sy renmotor tydens ’n kuipstopsessie met die hardste soort band toegerus en hy het onmiddellik spoed verloor.

Hy het sy misnoeë met die bande (en strategie) met ’n vloekwoord te kenne gegee en hy moes uiteindelik met ’n sesde plek tevrede wees.

“Ek is natuurlik baie teleurgesteld. Ek het baie goed op die medium bande vertoon en alles was onder beheer – tot daardie kuipstop, natuurlik,” het Leclerc ná afloop van die wedren gesê.

“Ek verstaan nog nie rêrig die rede vir die besluit nie, maar dit was ongetwyfeld die verkeerde een. Ek het dit duidelik oor die spanradio gestel dat die medium bande goed werk.”

Volgens die Monte Carlo-boorling was hy aanvanklik in sy noppies met die Ferrari se vaart.

“Dit is hartseer dat almal net die laaste gedeelte van die wedren sal onthou, en dit was ’n absolute fiasko. Ek het 20 sekondes by daardie kuipstop verloor en waarskynlik ’n verdere ses sekondes omdat die bande net nie wou saamwerk nie.”

Intussen het Russell gesê dat hy simpatie met Leclerc het.

“In hierdie toestande was daar nie ’n manier dat die harde bande doeltreffend sou wees nie. Ek kry Charles jammer omdat hy al die hele seisoen sy bes doen. Dit is egter alles deel van die sport,” het die Mercedes-man aangevoer.

Die noodlot het die Ferrari-renjaer ook in Frankryk getref toe hy in die 18de ronde van die Grand Prix beheer om ’n draai verloor het.

“Dit was my fout. En as ek aanhou om sulke foute te maak, verdien ek nie die Wêreldkampioenskap-titel nie,” het Leclerc destyds gesê.

Max Verstappen geniet tans ’n gemaklike voorsprong van 80 punte op die jaerspunteleer. Maar in ’n perfekte Ferrari-wêreld kon dinge anders gelyk het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Twallie ·

Soos ek verstaan, en ek is dalk verkeerd, maar dit blyk dat Ferrari al hul Medium bande vir die naweek opgebruik het en net die harde bande oor gehad het.

Waarom hulle hom nie laat aangaan het met sy mediums wat hy gehad het of sagte bande opgesit het nie, al was dit te vroeg, maar die kans gevat het nie, is nog ‘n vraag.

Swak besluite is besig om ‘n goeie begin te kelder en dis ‘n jammerte al is ek ‘n Red Bull ondersteuner.

Hennie Biebouw ·

Maar waarom is Leclerc nie deel van die span se strategie beplanning nie? Soos Prost, Senna en Michael Schumacher bv?
Die verskil tussen bloot ‘n “bestuurder ” en legendes…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.