Leclerc wil Ferrari se enjintoere opjaag

Ferrari se Charles Leclerc. Foto: Damien Saulnier/DPPI via AFP.

Die vlieënde Fin, Kimi Räikkönen, was die laaste Ferrari-renjaer wat met die F1-kampioenskaptitel kon wegjaag.

Dit was egter in 2007 en sedertdien het Red Bull (danksy Sebastian Vettel en Max Verstappen) saam met Mercedes (danksy Lewis Hamilton, Jenson Button en Nico Rosberg) hul stempel dubbel en dwars op die wedrenne afgedruk.

Tog het Charles Leclerc en Carlos Sainz met tye verlede jaar gewys dat Ferrari nog met die beste kan saamgesels. Maar ondanks ʼn uitstekende aanloop tot die seisoen het hulle uiteindelik stoom verloor om tweede viool teen Max Vestappen en Red Bull te speel.

Leclerc is egter oorgehaal om op die sukses van 2022 voort te bou.

“Dit uiteindelike doelwit is om die kampioenskaptitel in te oes en ek kan nie wag om weer agter die stuur in te skuif nie. Verlede jaar was inderdaad ʼn tree in die regte rigting, maar ons sal meer bestendig moet wees. Ons sal meer gereeld wedrenne moet wen,” het Leclerc gesê.

Die Monaco-boorling is ook opgewonde oor die splinternuwe Ferrari-vuurwa wat gister bekendgestel is.

“Ek glo dat ons die renmotor se swakhede aangepak het – betroubaarheid was immers die grootste kopseer – en hopelik sal ons nou baie beter vaar.”

Hy weet egter dat wedrenseges nie op ʼn goue skinkbord by die spanhoofkwartier aangedra word nie; Verstappen en Hamilton is immers gedugte teenstanders.

“Mercedes het teen die einde van 2022 al hoe meer momentum opgebou en ʼn mens kan nooit vir Lewis heeltemal afskryf nie. Ons kan dit nie bekostig om te vergeet wat hy alles reeds vermag het nie en hy is steeds honger vir sukses.

“Red Bull en Mercedes gaan dinge nie maklik maak nie, maar ons is gereed om vir die titel te veg.”

Felipe Massa het vroeër gesê dat Leclerc die skerpste pyl in Ferrari se aanvalskoker is.

“ʼn Span se sukses hang inderdaad van ʼn betroubare motor en goeie samewerking af, maar daar is so baie wat op ʼn renjaer se skouers rus. Ná vyf of ses wedrenne weet spanbase presies wie hul sterkste renjaer is,” het die oudrenjaer aangevoer.

En verlede jaar – ná daardie eerste drie wedrenne – het almal geweet dat Leclerc die septer vir Ferrari swaai.

“Ek moet erken; Carlos Sainz was die beste in sy eerste jaar saam met die span, maar toe het die renmotor gesukkel om by die res kers vas te hou. Toe die motor in 2022 op alle suiers gevuur het, was Charles beslis die sterkste.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Groen Ghoen ·

Forza Ferrari! Sestien jare sonder ‘n kampioenskap is ‘n laaaang droogte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.