Maradona se Porsche onder die hamer

Foto: AFP.

Diego Maradona se silwer Porsche 911-vuurwa sal binnekort opgeveil word en belangstellendes kan na verwagting tot R3,6 miljoen daarvoor betaal.

Die Argentynse sokkerster – wat verlede jaar in die ouderdom van 60 jaar dood is – het die motor in 1992 bekom toe hy vir Seville in Spanje gespeel het.

Volgens Bonhams, wat die veiling sal behartig, is Maradona se Porsche een van slegs 1 200 van die spesifieke model wat vervaardig is.

“Ons is verheug om hierdie unieke Porsche uit die 1990’s aan voornemende kopers te bied; veral versamelaars van sokkergedenkwaardighede sal dit baie geniet,” het Bonhams se Paul Darvill gesê.

Maradona was een van die beste, hoewel omstrede, sokkerspelers ooit.

Sy “Hand of God”-doel het gesorg dat Engeland uit die kwarteindstryd van die 1986 Wêreldbeker-sokkertoernooi geboender is.

Aan die einde van die toernooi het ’n 25-jarige Maradona die beker omhoog gehou nadat die Suid-Amerikaners Wes-Duitsland met 3 – 2 in die eindstryd geklop het.

Daily Mirror het ten tyde van sy dood ’n foto van hierdie sportoomblik – toe Maradona sy vuis gebruik het om die bal buite die bereik van die Engelse doelwagter Peter Shilton te stuur – op hul voorblad geplaas.

Die opskrif “He is in the hands of God” het die berig perfek opgesom.

Selfs die suurste koerantman kan nie die briljantheid van Maradona se spel betwis nie.

“Daar is min mense in die wêreld se geskiedenis wat vir soveel verdeeldheid gesorg het as die man wat amper eiehandig die Wêreldbeker gewen het, terwyl hy blatant op en van die veld verneuk het. Maar vir diegene van ons wat bevoorreg genoeg was om Diego Maradona op sy beste te sien, weet dat nie een van sy tekortkominge as mens inbreuk op sy briljantheid op die sokkerveld maak nie,” het Mark Irwin vir The Sun geskryf.

Maradona het 34 doele in 91 internasionale wedstryde vir Argentinië aangeteken. Op die klubfront het hy 259 keer die agterkant van die doelhok gevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.