Max eerste in Seb se laaste ren

Max Verstappen vier sy oorwinning in Abu Dhabi. Foto: Twitter.

Max Verstappen het vandag vir die 15de keer hierdie seisoen vir ʼn vuurwerkvertoning gesorg toe hy met die louere in Abu Dhabi weggejaag het.

Die Red Bull-renjaer het van begin tot einde voorgeloop en dit is sy derde oorwinning op ʼn streep in die hoofstad van die Verenigde Arabiese Emirate nadat die geruite vlag ook in 2020 en in 2021 vir hom geswaai is.

Die groot stryd was egter om die tweede plek tussen Sergio Perez en Charles Leclerc – nie net in die wedren nie, maar ook op die jaerspunteleer.

Red Bull se strategie was ʼn bykomende kuipstop vir Perez sodat hy met nuwer bande meer slaankrag teen die einde van die wedren sou hê om vir Leclerc in te haal.

Die Mexikaanse renjaer het sy bes probeer, maar die Ferrari-man het genoeg skietgoed gehad om nie net sy plek op die baan te verdedig nie, maar ook tweede oor die wenstreep te jaag.

In die proses het hy vir Perez met drie punte op die jaerspunteleer geklop.

“Ek het 110% van die begin tot die einde gegee,” het Leclerc ná die afloop van die wedren gesê. “Ek het geweet dat ʼn ander strategie die enigste manier sou wees om vir Sergio te klop. Ek hoop van harte dat ons volgende jaar ʼn bietjie meer woema sal hê sodat ons ook die wêreldkampioenskap in ons visier kan hê.”

Op sy beurt is Perez tevrede met sy vertoning.

“Dit is hoe dinge maar soms uitwerk. Ek het my beste probeer en ek is seker dat ons volgende jaar sterker as ooit sal wees.”

Sebastian Vettel waai vir sy ondersteuners. Hy het sy laaste wedren in die tiende plek afgesluit. Foto: Twitter.

Dan het Sebastian Vettel tiende in sy laaste F1-wedren geëindig. Hy sluit die seisoen in die 11de plek op die jaerspunteleer af.

“Ek het die wedren geniet, selfs al het ons met tye met ons strategie gesukkel. Tog wil ek almal vir hul ondersteuning bedank – daar was soveel vlae en plakkate. Ek dink ek gaan F1 baie meer mis as wat ek aanvanklik gedink het,” het die 35-jarige Duitser gesê.

“Die afgelope twee jaar was ʼn teleurstelling vir my op die renbaan, maar ek wil soveel ander dinge ervaar. Ek wil graag hê dat die ander renjaers die goeie werk moet voortsit, maar ek weet ook dat daar belangriker dinge in die lewe is as om in sirkels rond te jaag.”

Uitslae:

  1. Max Verstappen (Red Bull)
  2. Charles Leclerc (Ferrari)
  3. Sergio Perez (Red Bull)
  4. Carlos Sainz (Ferrari)
  5. George Russell (Mercedes)
  6. Lando Norris (McLaren)
  7. Esteban Ocon (Alpine)
  8. Lance Stroll (Aston Martin)
  9. Daniel Ricciardo (McLaren)
  10. Sebastian Vettel (Aston Martin)

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen 454 punte
  2. Charles Leclerc 308 punte
  3. Sergio Perez 305 punte
  4. George Russell 275 punte
  5. Carlos Sainz 246 punte
  6. Lewis Hamilton 240 punte
  7. Lando Norris 122 punte
  8. Esteban Ocon 92 punte
  9. Fernando Alonso 81 punte
  10. Valtteri Bottas 49 punte
  11. Sebastian Vettel 37 punte
  12. Daniel Ricciardo 37 punte
  13. Kevin Magnussen 25 punte
  14. Pierre Gasly 23 punte
  15. Lance Stroll 18 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Red Bull 759 punte
  2. Ferrari 554 punte
  3. Mercedes 515 punte
  4. Alpine 173 punte
  5. McLaren 159 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

MakersMark ·

Briljant Max en Red Bull. 15 oorwinnings in die jaar. Letterlik myle voor die res !

Andre ·

Max!!”Simlpy the Best” wel gedaan,Sebastian jy sal gemis word uitstekende loopbaan

Koos 100 ·

Danke Seb!
Jy was ‘n puik renjaer, en selfs ‘n gevaarlike een. By tye het jy en Lewis mekaar bykans verwoes! Nou is die Lewis en Max. En voor julle was dit Michael. Lyk my die vete tussen die UK en Duidsland duur voort.

Koos 100 ·

Vonkprop. Hy is nog mededingend. Sy waarde aan kennis is nog baie hoog. Anders moet Alonso ook mos maar gaan?

Vonkprop ·

Hoekom het Lewis dan 6de geëindig? Selfs Russel was beter. Mededingend is Charles en Carlos. Lewis jaag vir aandag en Alonso vir die liefde vir die sport. Groot verskil.

George ·

Om te dink Max kon dat Perez 2de le, maar hy is net so bietjie selfsugtig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.