Medvedev en Zverev wéér slaags

Alexander Zverev vier ’n punt in Monte Carlo. (Foto: Valery Hach/AFP)

Een van wêreldtennis se lekkerste tweestryde is beslis Daniil Medvedev teen Alexander Zverev. Die twee spelers gaan nou weer sake uitspook vir ʼn plek in die volgende ronde van die Monte Carlo-Meesterstoernooi.

Dit sal hul eerste ATP-ontmoeting op ʼn kleibaan wees.

Medvedev het hul vorige swaardkruissessie by die Indian Wells-toernooi met 6-7, 7-6 en 7-5 gewen en hy het ook nou al sewe keer as oorwinnaar in hul 13 tweestryde van die baan gestap.

Al twee tennissterre het vroeër op ʼn drafstap met hul teenstanders in Monte Carlo afgereken: Medvedev het Lorenzo Sonego met 6-3 en 6-2 geklop, terwyl Zverev vir Roberto Bautista Agut met 6-4 en 6-4 getroef het.

“Ons was al vantevore in taai wedstryde gewikkel. Ek onthou ek het hom destyds as ʼn junior speler op ʼn kleibaan gewen, maar hierdie wedstryd beloof om ʼn perd van ʼn ander kleur te wees. Alexander speel nou goeie tennis en ek sal op my beste moet wees,” het Medvedev gesê.

Dan speel Novak Djokovic teen Lorenzo Musetti, terwyl Jannik Sinner vir Hubert Hurkacz die stryd sal aansê.

Uitslae:

Matteo Berrettini klop Francisco Cerundolo met 5-7, 7-6 en 6-4

Holger Rune klop Dominic Thiem met 6-2 en 6-4

Taylor Fritz klop Stan Wawrinka met 7-6 en 6-2

Daniil Medvedev klop Lorenzo Sonego met 6-3 en 6-2

Karen Khachanov klop Ilya Ivashka met 7-6 en 6-2

Jiri Lehecka klop Grigor Dimitrov met 7-6 en 6-4

Alexander Zverev klop Roberto Bautista Agut met 6-4 en 6-4

Casper Ruud klop Botic van de Zandschulp met 7-5 en 7-6.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.