Medvedev in nóg ʼn kwarteindstryd

Daniil Medvedev in Miami. Foto: Twitter.

Daniil Medvedev het vir nóg ʼn kwarteindstryd gekwalifiseer toe hy Quentin Halys in die vierde rondte van die Miami-Ope met 6-4 en 6-2 geklop het.

Ondanks reën wat gedreig het om die wedstryd in die wiele te ry, het die Moskou-boorling sy teenstander met kranige afslaanwerk onder druk geplaas om ʼn spul punte op dié manier te wen.

Hy het die wenhou egter eers ná middernag geslaan.

“Ek was onder die indruk dat die beamptes die wedstryd sou afstel. Ek is taamlik tevrede met my spel want dit was hoegenaamd nie maklik gewees om tennis in hierdie toestande te speel nie. Ek dink Quentin het ook nie op alle suiers gevuur nie; veral omdat ons so laat gespeel het,” het die Russiese ster gesê.

Medvedev het vanjaar nog net drie wedstryde verloor, terwyl hy vroeër ook drie titels op ʼn streep ingeoes het.

Hy speel later vandag teen die VSA se Christopher Eubanks in een van die kwarteindstryde.

Dan het Jannik Sinner ook sy plek in die kwarteindstrydrondte verseker toe hy met Emil Ruusuvuori afgereken het.

Die eindtelling was 6-3 en 6-1 in die Italianer se guns en hy sal teen Carlos Alcaraz of Taylor Fritz in die uitspeelwedstryd te staan kom.

Uitslae:

Jannik Sinner klop Emil Ruusuvuori met 6-3 en 6-1.

Daniil Medvedev klop Quentin Halys met 6-4 en 6-2

Francisco Cerundolo klop Lorenzo Sonego met 3-6, 6-3 en 6-2

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.