Medvedev laat moeë Zverev nie met rus

Daniil Medvedev. Foto: Twitter.

Rusland se Daniil Medvedev is die nuwe Parys Meesters-kampioen nadat hy Duitsland se Alexander Zverev met 5-7, 6-4 en 6-1 oorrompel het.

Die 24-jarige Rus het die eerste stel verloor en veral Zverev se vurige afslane het amok in die Franse hoofstad gemaak. Maar Medvedev het kalm gebly, diep gedelf en die daaropvolgende stelle op ’n drafstap gewen.

Sodoende het hy sy eerste titel van die seisoen en die agtste van sy loopbaan ingeoes. En hoewel die amptelike ATP-ranglys nog nie opgedateer is nie, is die kanse goed dat hy Roger Federer as die vierde beste speler ter wêreld kan onttroon.

Al twee spelers het moeilike paadjies na die eindstryd gevolg: Medvedev het onder meer met Milos Raonic en Diego Schwartzmann afgereken, terwyl Zverev met Rafael Nadal en Stan Wawrinka klaargespeel het.

“Ek was vanjaar nie op my beste nie en my arme vrou moes luister hoe ek kla. Maar ek is mal oor die toernooi en ek is ongelooflik dankbaar waar ek hier staan,” het Medvedev ná die wedstryd gesê.

Nadat hy Zverev se afslane getem het, het hy na ’n hoër rat oorgeskakel en het met die energie van ’n Duracell-hasie gespeel.

Hy het by tye met verstommende houe vorendag gekom en die Duitser het duidelik geen teenfoeter daarvoor gehad nie.

Dit is soveel makliker om die septer te swaai wanneer jou teenstander se skouers van moedeloosheid begin hang: En dit is presies wat Medvedev gedoen het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.