Die sesde Moto GP van die seisoen word Sondag in Italië gejaag. Slegs vyf punte skei die renjaers in die tweede tot vyfde posisie op die punteleer. Die groot gaping tussen nommer een en twee bly egter die fokus. Die rede is ooglopend, want die gaping, ná net vyf wedrenne, is ʼn allemintige 36 punte.
Kan die drie Yamahas en twee Ducati’s enigsins Sondag die gaping kleiner maak? Op die oog af lyk Marques onaantasbaar, maar ʼn mens moet darem onthou dat daar tydens die eerste twee wedrenne twee ander wenners was (Andrea Dovizioso en Cal Crutchlow).
In die vorige wedren, wat op Le Mans in Frankryk gejaag is, het Marc Marques (Repsol Honda) gemaklik geseëvier. Danilo Petrucci (Ducati) was tweede en Valentino Rossi (Movistar Yamaha) derde.
Dit was die 25-jarige Marques se 106de keer wat hy oor 173 wedrenne op die wennerspodium was.
Marquez het met die oorwinning seker gemaak hy wen drie wedrenne in ʼn ry en hy is ná vyf wedrenne gemaklik voor op die punteleer.
Pos | Jaer | Motorfiets | Punte |
1 | Marc Marques | Honda | 95 |
2 | Maverick Vinales | Yamaha | 59 |
3 | Johann Zarco | Yamaha | 58 |
4 | Valentino Rossi | Yamaha | 56 |
5 | Danilo Petrucci | Ducati | 54 |
In die Moto2-afdeling is Suid-Afrika se Brad Binder tans negende op die punteleer en Steven Odendaal is 27ste. In Moto3 is Darryn Binder 21ste op die punteleer.
Die oefenrondes begin Vrydag terwyl die kwalifisering Saterdag afgehandel sal word.
Die wegspring is Sondag om 11:00 vir Moto3, 12:20 vir Moto2 en 14:00 vir Moto GP.
Klik gerus hier vir meer inligting.