Moto2: Briljante Brad Binder hou heel beste vir laaste

Moto2-renjaer Brad Binder van Suid-Afrika (17 November 2019) (Foto: AP Photo/Alberto Saiz)

Net drie punte!

Dit is wat tussen die Suid-Afrikaanse motorfietsrenjaer Brad Binder (KTM) en vanjaar se Moto2-wêreldkampioen, Alex Marquez van Spanje, gestaan het nadat Binder Sondag in Valencia die Moto2-ren (vanjaar se laaste ren) op die Ricardo Tormo-baan op briljante wyse gewen het.

Die Switser Thomas Luthi (Kalex) was tweede, 0.735 sekondes agter Binder met die Spanjaard Jorge Navarro (Speed Up) derde.

Die ren is tot 16 rondtes verkort ná ʼn dramatiese Moto3-ren wat tot 15 rondtes verkort is. Dit het gevolg nadat daar twee ongelukke was tydens die opwarmrondte toe Aron Canet se fiets olie gelek het op pad wegspring toe.

Die ren is met 11 minute vertraag, maar ná slegs twee rondtes is die rooi vlag gewaai ná ʼn massa-ongeluk, waarin wonderbaarlik niemand ernstig beseer is nie.

Luthi was deurentyd in die Moto2-ren voor.

Moto2-renjaer Brad Binder van Suid-Afrika jaag oor die wenstreep (17 November 2019) (Foto: AP Photo/Alberto Saiz)

Binder het in die tweede rondte tot 22ste teruggesak, maar sy pad gaandeweg oopgeveg. Hy het drie rondtes voor die einde vir Luthi verbygesteek en in 25 minute 30.766 sekondes gewen.

Binder was vroeër vanjaar in ʼn stadium 41 punte agter Marquez. Binder het vyf van die laaste nege renne gewen, insluitende die laaste drie renne, maar dit was net-net nie genoeg nie.

Marquez, wat Sondag 30ste en laaste geëindig het nadat hy drie rondtes voor die einde nog vyfde was, het vyf van vanjaar se eerste tien renne gewen en ʼn paar ander podiumplekke behaal om ʼn paar weke gelede reeds seker te maak van die wêreldkroon.

As is verbrande hout, maar ʼn mens wonder tog wat kon gebeur het as daar nog een ren oor was.

Sou Marquez aan sy voorsprong kon vasklou, of sou die Suid-Afrikaner, wat aanstaande jaar die eerste Suid-Afrikaanse jaer word wat aan die MotoGP gaan deelneem, nie dalk die bordjies kon verhang het nie? Hoeveel van ons het werklik die Springbokke kans gegee om die Wêreldbeker te wen?

Nietemin, Marquez het met 261 punte geëindig, gevolg deur Binder (259), Luthi (250), Navarro (226).

* In die MotoGP was die wêreldkampioen, Marc Marquez (Honda) eerste gevolg deur Fabio Quartararo (Yamaha) en Jack Miller (Ducati).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Vita ·

Die man is goed, jammer KTM het te kaat die goeie bike gegee, hy kon MotoGP 2 champ gewees het, volgende jaar ry hy saam die top manne, hoop hy doen goed

Vintcent ·

Goeie sportman…wonderlik met onderhoude en joernaliste. IMBORS…met hoofletters.

KrokodilBotha ·

Uitstekend. As hy nou net n Honda kan ry volgende jaar.

Oom Doug ·

Ek sien uit na die dag dat hy wereld kampion is in die MotoGP klass.

Binderfan ·

Net ‘n korreksie, Brad se swakste posisie gister was 3é in die eerste rondte waarna hy opgeskuif het tot 2é. In die voorlaaste rondte het hy die voortou geneem. Wel gedaan jong man!

wraggies ·

Wonderlik om te aanskou, al was dit net op Catch up hierdie keer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.