MotoGP: Binder sit nie by hooftafel aan

Suid-Afrika se Brad Binder tydens die spoedtoetse by MotoGP (Februarie 2022) (Foto: Jose Jordan/AFP)

Dit is sekerlik nie maklik nie en dalk te veel gevra, maar sal dit nie wonderlik wees as Brad Binder (Red Bull KTM) sy skitter-vertonings in Saterdae se MotoGP-naelrenne na Sondag se Grand Prix-renne kan oordra nie?

Binder het Saterdag op Le Mans ʼn briljante tweede plek in die naelren behaal, maar hy kon dit nie in Sondag se Franse Grand Prix opvolg nie.

Die tafel was gedek vir ʼn goeie vertoning, maar Binder het nie daarby aangesit nie omdat hy twee keer van die baan gejaag het en kosbare tyd ingeboet het.

Dalk was dit sy soveelste middelmatige kwalifiseringstyd, wat hom in die vierde ry in die 10de posisie laat wegspring het.

Die hele Suid-Afrika het duim vasgehou vir ʼn goeie wegspring, maar Binder, wat as BB33 bekend staan, het in ’n effe teleurstellende sesde plek geëindig.

Hy het reeds in die eerste rondte van die baan gejaag. Dit het hom tot in die 16de plek laat afskuif, maar hy het stadig maar seker teruggeveg en was halfpad agtste en op die agterwiel van sy Red Bull-spanmaat, Jack Miller, wat in ’n stadium eerste was.

Maar Binder is met ’n lang rondte gestraf nadat hy Miller verbygesteek het, van die baan gejaag en te vinnig (binne ’n sekonde) na die baan teruggekeer het.

Die Franse Grand Prix, die 1000ste MotoGP sedert 1949, is deur meer as 278 000 toeskouers op Le Mans bygewoon … en hulle is nie teleurgesteld huis toe nie.

Dit was ʼn dramatiese resies, met verskeie van die topjaers wat geval het wat die kaarte heeltemal deurmekaargekrap het.

Die Grand Prix is deur Marco Bezzecchi (Mooney VR46 Ducati) gewen, met Jorge Martin (Pramac Ducati) tweede, Johann Zarco (Pramac Ducati) derde, Augusto Fernandez (GASGAS) vierde, Aleix Espargaro (Aprilia Factory) vyfde en Binder (Red Bull KTM) sesde.

Verskeie van die topjaers, soos die huidige wêreldkampioen, Francesco Bagnaia (Ducati Lenovo), Marc Marquez (Repsol Honda), Alex Rins (Honda), Joan Mir (Repsol Honda), Luca Marini (Mooney VR46 Ducati), Alex Marquez (Gresini Ducati) en Maverick Viñales (Aprilia Factory) het geval en kon nie die resies voltooi nie.

Nadat Viñales kontak met Bagnaia se fiets gemaak het en albei oor die gruis geskuif het, was daar byna probleme toe hulle mekaar bygedam het.

Maar hulle het later vrede gemaak en blad geskud toe hulle kuipe toe is.

Bezzecchi het met sy tweede oorwinning vanjaar die gaping tussen hom en Bagnaia op die puntelys laat krimp. Bezzechi (93) is nou net een punt agter Bagnaia, wat geen punte op Le Mans in die Grand Prix verdien het nie.

Binder lê derde met 81, Martin vierde met 80, Zarco vyfde met 66 en Luca Marini (Mooney VR46) sesde met 54.

Die volgende Grand Prix is die Italiaanse Grand Prix op 9, 10 en 11 Junie op die Mugello-baan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Andre ·

Wel gedaan Brad harde werk le voor tussen Brad en Bangania is hulle die snel konings

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.