MotoGP: Brad Binder 8ste, broer Darryn 12de

Brad Binder. (Foto: Javier Soriano / AFP)

Ai, as Brad Binder maar net beter in kwalifisering vir MotoGP-renne kon vaar.

Binder (Red Bull KTM) het nietemin Sondag op die Circuit de Barcelona in die agtste plek in die Kataloniese Grand Prix geëindig wat hom tot algehele sesde plek op die kampioenskapspuntelys laat opskuif het.

Die Grand Prix, waarin verskeie topjaers, soos Alex Rins en Francesco Bagnaia reeds in die eerste rondte geval het, is deur die huidige wêreldkampioen, Fabio Quartararo (Yamaha), gewen wat sy tweede oorwinning vanjaar was.

Jorge Marti (Ducati) was tweede, gevolg deur Johann Zarco (Ducati), Joan Mir (Suzuki), Aleix Espargaro (Aprilia) en Luca Marini (Ducati).

Darryn Binder (Foto: Pau BARRENA/AFP)

Brad Binder se jonger broer, Darryn, het 12de geëindig en hy is nou tweede op die puntelys om as nuweling van die jaar gekroon te word.

Brad Binder het die soveelste keer vanjaar nie goed in kwalifisering gevaar nie en het slegs 15de weggespring.

Hy het in die eerste rondte reeds tot 11de opgeskuif en algaande verbeter.

Quartararo (147 punte) het sy voorsprong op die puntelys vergroot, met Espargaro (125) tweede en Enea Bastianini (94) derde.

Brad Binder (73) is sesde en Darryn Binder 20ste met 10 punte.

Afgesien van verskeie topjaers wie se drome ná valslae beëindig is, het Espargaro, die plaaslike gunsteling, vir die groot drama, of liewers ʼn blaps, gesorg.

Hy was in die voorlaaste rondte tweede, maar het gedink die ren is verby. Hy het dus stadiger begin ry en vir sy tuisskare gewuif voordat hy sy fout agtergekom het.

Espargaro het 8 sekondes ingeboet en afgeskuif na vyfde plek toe.

Die kommentators was byna stomgeslaan, want sover vasgestel kon word, het dit laas in 2006 met Kenny Roberts gebeur.

* Die volgende Grand Prix is die Duitse ren op 19 Junie op Sachsenring aan die buitewyke van Chemnitz in Duitsland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.