MotoGP: Brad spring in 12de plek weg    

Brad Binder (Foto: Joe Klamar/AFP)

Die Suid-Afrikaner Brad Binder was op koers om in die voorste wegspringplek te kwalifiseer vir vandag se MotoGP-wedren in Argentinië, maar ʼn foutjie om ʼn draai laat in sy rondte het hom duur te staan gekom. Hy moes tevrede wees met die 12de wegspringplek op sy KTM.

Sy broer, Darryn, spring in die 23ste plek weg. Dit sal hom nie veel pla nie want nes Brad hou hy daarvan om deur die verkeer te vleg.

Dit was ʼn groot dag vir Aprilia wat vir die eerste keer in die voorste plek sal wegspring. Die Spanjaard Aleix Espargaro het vir dié opwinding gesorg.

Dit is sy eerste voorste wegspringplek in sewe jaar. Hy het destyds nog vir Suzuki gejaag.

Nog ʼn Spanjaard, Jorge Martin (Ducati-Pramac), spring in die tweede plek weg en Luca Marini van Valentino Rossi se Ducati-VR46-span in die derde plek.

Die wêreldkampioen, Fabio Quartararo op sy Yamaha, spring in die sesde plek weg. Pol Espargaro (Honda) en Maverick Vinales (Aprilia) is in onderskeidelik vierde en vyfde plek.

Die derde ry in die wegspringplekke bestaan uit Alex Rinse en Joan Mir op hulle Suzuki’s en Johann Zarco (Ducati-Pramac).

Daar was talle logistieke probleme met die aflewer van toerusting en die organiseerders was selfs bekommerd dat die Argentynse Grand Prix nie sou plaasvind nie.

Die wedren begin vanaand om 20:00 Suid-Afrikaanse tyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.