Motorsport: Dakar-tydren se roete aangekondig

Nasser Al-Attiyah tydens ‘n vorige Dakar-wedren (Foto: Franck Fife/AFP)

Die Dakar-tydren word van 1 tot 14 Januarie 2022 vir die derde keer in Saoedi-Arabië aangebied. Die hele roete wat die dieptes verken van die Rub’ al Khali is vandag onthul.

Dit is die 44ste Dakar-tydren met 1 065 deelnemers aan boord van 578 voertuie wat jaag op ʼn uitdagende roete van 8 375km in verskeie afdelings.

Die landskap van die roete is soortgelyk aan die vorige tydren en dit begin en eindig in twaalf skofte in die hawestad Jeddah. Die roete loop deur klowe in die Neomstreek en die duine rondom Riyadh asook langs die kuslyn van die Rooi See.

Hibriede voertuie neem vir die eerste keer deel. Stephane Peterhansel, wat die tydren al 14 keer gewen het, asook Carlos Sainz, wenner in 2010, 2018 en 2020, neem in die nuwe afdeling deel.

Verskeie Suid-Afrikaners, onder wie Giniel de Villiers, sal weer in 2022 deelneem.

Die Dakar-tydren is ook nou die eerste been van ʼn nuwe Wêreld-tydrenkampioenskap. As deel van hierdie vernuwing, kan deelnemers wat weens ʼn ongeluk of tegniese probleme nie ʼn skof voltooi nie, steeds die volgende skof aandurf. Daar sal wel groot tydstrawwe van toepassing wees. Dit beteken bestuurders kan steeds skofte wen asook punte aanteken vir die wêreldkampioenskap al het hulle nie ʼn vorige skof voltooi nie.

Vir nou vind die tydren net in Saoedi-Arabië plaas, want organiseerders reken dit kan nog twee jaar duur voordat hulle weer oor grense kan jaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.