Murray wen epiese vyfstelstryd

Andy Murray het ’n epiese Australiese Ope-wedstryd gewen. Foto: Twitter.

Hy mag dalk vanjaar sy 36ste verjaardag vier, terwyl ʼn heupbesering ook al gedreig het om sy loopbaan te ontspoor. Tog het Andy Murray vandag die horlosie in Melbourne teruggedraai om die veel jonger Matteo Berrettini in sy openingswedstryd van die Australiese Ope te klop.

Ná amper vyf uur se spel het die ervare Skot die 13de gekeurde Italianer met 6-3, 6-3, 4-6, 6-7 en 7-6 geklop. Dit was sy eerste Grand Slam-oorwinning teen ʼn top-20-speler in meer as vier jaar.

Murray het slim tennis gespeel terwyl die geluk beslis ook aan sy kant was. Berrettini het die bal teen die net vasgeslaan toe hy op die drumpel gestaan het om die wedstryd in die vyfde stel te beklink.

“Ek is nogal moeg en ek gaan dit beslis later vanaand en môre aan my lyf voel, maar tans is ek net ongelooflik bly en trots op myself,” het die Skotse speler gesê.

Volgens Murray het hy deksels hard op die oefenbaan in die aanloop tot die eerste Grand Slam-toernooi van die jaar gewerk.

“Ek wou vir myself ʼn kans teen spelers soos Matteo gee en dit het beslis nou die vrugte daarvan gepluk.”

Berrettini het verlede jaar tot die halfeindstryd van die Aussie Ope gevorder waar hy teen Rafael Nadal die onderspit gedelf het. Vóór daardie wedstryd het hy egter met gerekende teenstanders soos Carlos Alcaraz en Pablo Carreno Busta afgereken.

Murray meen ook dat daar ʼn blink toekoms op die 26-jarige Italianer wag.

“Sy afslaanwerk is verstommend en hy is een van die bestes ter wêreld; hy gee letterlik nooit op nie. Hy het vandag weer tot die heel einde baklei en ek moes my storie ken om hom te klop.”

Maar terug na Murray.

Die Skotse ster is ʼn voormalige wêreldnommereenspeler en in die afwesigheid van die “Groot Drie-spelers” (Roger Federer, Rafael Nadal en Novak Djokovic) sou hy beslis met baie meer Grand Slam-titels gespog het.

Hy sal in die tweede ronde teen Fabio Fognini of Thanasi Kokkinakis te staan kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.