Muurklimsterre wil staal in Suid-Korea wys

Tiffany en Caitlin Bouwer. (Foto: Verskaf)

Die jong sterre van Rock Valley Climbing (RVC) in Centurion is steeds op die roete na sukses. Vier van die muurklimbklub se atlete is gekies om Suid-Afrika by die Wêreldjeugkampioenskap te verteenwoordig.

Tiffany en Caitlin Bouwer sal saam met Jordan Purdy en Ronan Purdy in Augustus hul vaardighede in Suid-Korea uitstal.

Boonop is die twee sussies die eerste vroue‑atlete uit Centurion om Suid-Afrika op die internasionale muurklimverhoog te verteenwoordig.

“Ons is ongelooflik trots op hulle. Dit is vir ons ʼn eer om die atlete se vordering oor die afgelope vyf jaar te volg. Hulle verdien dit 100% om hul land te verteenwoordig,” het RVC se Carmen Bouwer gesê.

Muurklim is vinnig besig om een van die gewildste sportsoorte onder jong mense te word en ’n mens kan verstaan waarom: Dit is nie net goed vir jou fiksheid en spierkrag nie, maar ook vir jou konsentrasie- en probleemoplossingvermoë.

Jordan en Ronan Purdy (Foto: Verskaf)

RVC se vertoonkas is ongetwyfeld besig om uit sy nate te bars. By verlede jaar se provinsiale kampioenskap het die klub 15 medaljes ingeoes.

“Hulle oefen baie hard en volg ʼn spesifieke oefen- en eetprogram, terwyl daar ook op hul geestelike sterkheid gefokus word.”

Volgens Bouwer geniet die atlete geen finansiële ondersteuning van die plaaslike sportbeheerliggaam nie en hulle moet self die koste van hul deelname in Suid-Korea dra.

Backabuddy-bladsye (Tiffany/Caitlin en Jordan/Ronan) is gestig, terwyl hulle Saterdag (22 April) ook vir 12 uur aan ʼn burpee-uitdaging sal deelneem om geld in te samel.

Die uitdaging sal regstreeks op RVC se sosialemediabladsye uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.