ʼn Groot jaar wag op Perez

Red Bull se Sergio Perez en Christian Horner. (Mark Thompson/Getty Images/AFP)

Met sy seges in Saoedi-Arabië en Azerbeidjan het Sergio Perez ʼn uitstekende aanloop tot die 2023-wedrenseisoen gehad.

Maar daarna het sy wiele so ʼn bietjie afgeval en hy moes magteloos toekyk hoe sy Red Bull-spanmaat Max Verstappen die een wedren ná die ander wen.

Verstappen het nie net sy wêreldkampioen-titel suksesvol verdedig nie, maar die geruite vlag is ook in 19 van die 22 wedrenne vir hom geswaai.

ʼn Jaerspunteleer-voorsprong van 290 punte het boonop beteken dat hy gereeld Perez se vordering in sy truspieëltjie moes dophou.

Een van die grootste struikelblokke in Perez se pad was sy gesukkel in die kwalifiserende rondes en hy moes gereeld op ʼn Sondag uithaal en wys om vir sy teleurstellende Saterdag-vertonings te vergoed.

Volgens Christian Horner sal die Mexikaanse renjaer beslis dié probleem moet uitstryk as hy beter in 2024 wil vaar.

“Sergio is vinnig en wat bestuursvernuf betref, kan hy met die bestes saamgesels – ek dink hy het vanjaar meer teenstanders as enigiemand anders verbygesteek. Maar hy sal hoër op die wegspringrooster moet begin. Hy moet saam met die voorste vier renjaers wegtrek; nie negende of tiende nie,” het die Red Bull-spanbaas gesê.

Perez se Red Bull-kontrak verstryk teen die einde van 2024.

“Hy weet dat ʼn groot en belangrike jaar op hom wag en hy sal beslis die rustydperk gebruik om sy vertonings te hersien. ʼn Mens moet egter onthou dat hy steeds tweede op die jaerspunteleer klaargemaak het, maar daar is beslis terreine waarin hy sal wil verbeter.”

Eerste vyf wedrenne van die nuwe seisoen:

2 Maart: Bahrein

9 Maart: Saoedi-Arabië

24 Maart: Australië

7 April: Japan

21 April: China

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.