Nege van die bestes vir Max!

Max Verstappen het sy negende wedren op ’n streep gewen. (Foto: Twitter/Red Bull)

Te midde van reën, ʼn gespook en gespartel om die korrekte bandtipe te kies én ʼn rooi vlag, is die geruite vlag vir ʼn derde keer op ʼn streep vir Max Verstappen in Zandvoort geswaai.

Dit was terselfdertyd die Nederlandse renjaer se negende agtereenvolgende oorwinning en hy is nou gelyk met Sebastian Vettel wat in 2013 ʼn soortgelyke vertoning agter die stuur van ʼn Red Bull gelewer het.

ʼn See van sopnat oranje ondersteuners het Verstappen se merkwaardige prestasie gevier en hy het nou al 339 punte op die amptelike jaerspunteleer bymekaargemaak; 138 punte meer as spanmaat Sergio Perez in die tweede plek.

So van Perez gepraat: Die Mexikaanse renjaer is met vyf sekondes beboet omdat hy te vinnig in die kuipe gejaag het. Die straf het toegesien dat Pierre Gasly ʼn podiumplek losgeslaan het.

Fernando Alonso het ook die krane in die reën oopgedraai en hy het die wedren in die tweede plek afgesluit. Dit is die eerste keer sedert die Kanadese Grand Prix dat hy weer op die podium staan.

“Dit is ongelooflik. Die weer het dinge glad nie maklik gemaak nie, maar Zandvoort sorg altyd vir ʼn wonderlike atmofeer – ek het hoendervleis gehad toe die volkslied in aanloop tot die wedren gespeel is,” het Verstappen gesê.

“Ek sal volgende week aan ʼn moontlike tiende wedrenoorwinning dink. Ek wil vir eers hierdie oomblik geniet en alles inneem.”

Volgens Aston Martin se Alonso kon die renjaers nie bekostig om konsentrasie te verloor nie.

“Ek is dankbaar dat ek nou agter die stuur van ʼn mededingende renmotor is. In nat toestande moet jy ʼn betroubare motor hê en ek het baie vertroue in my vuurwa,” het die ervare Spanjaard gesê.

Uitslae:

  1. Max Verstappen (Red Bull)
  2. Fernando Alonso (Aston Martin)
  3. Pierre Gasly (Alpine)
  4. Sergio Perez (Red Bull)
  5. Carlos Sainz (Ferrari)
  6. Lewis Hamilton (Mercedes)
  7. Lando Norris (McLaren)
  8. Alex Albon (Williams)
  9. Oscar Piastri (McLaren)
  10. Esteban Ocon (Alpine)

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen: 339 punte
  2. Sergio Perez: 201 punte
  3. Fernando Alonso: 168 punte
  4. Lewis Hamilton: 156 punte
  5. Carlos Sainz: 102 punte
  6. Charles Leclerc: 99 punte
  7. George Russell: 99 punte
  8. Lando Norris: 75 punte
  9. Lance Stroll: 47 punte
  10. Pierre Gasly: 37 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Red Bull: 540 punte
  2. Mercedes: 255 punte
  3. Aston Martin: 215 punte
  4. Ferrari: 201 punte
  5. McLaren: 111 punte
  6. Alpine: 73 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frank ·

Geweldig Max, ook die koning Willem Alexander en die koningin Máxima en prinses Amalia en prinses Ariana was ongelooflik bly.
Vooral die foto met die koning.
Nederland kan trots wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.