‘Niks lekkerder as om by elke klas te wees’

Riaan Hofmeyer is van vroeg tot laat op sy pos.

Riaan Hofmeyr staan soggens om 04:00 op, drink ’n koppie koffie en ry ’n kort rukkie later om CrossFit RedShack in Pretoria oop te sluit. Net ná 20:00 trek hy weer die sleutels nader om die deur en veiligheidshek toe te sluit.

Luitenant-generaal Hal Moore (die bekende Amerikaanse krygsman wie se heldedade danksy Mel Gibson se vertolking in We were Soldiers ook nou ’n Hollywood-treffer is) sou trots hierop gewees het.

Ja, die Viëtnam-oorlog en CrossFit kan hoegenaamd nie met mekaar vergelyk word nie, maar pligsgetrouheid en verantwoordbaarheid bly belangrik – Hofmeyr is immers eerste op die fiksheidslagveld (as jy wil) en die laaste om weer te loop.

“Dit is my voltydse werk en daar is vir my niks lekkerder as om by elke klas te wees nie. Ek weet dit klink soos ’n cliché, maar ek het ongetwyfeld die beste werk ter wêreld,” het Hofmeyr gesê.

Vir die 43-jarige CrossFit-afrigter is goeie menseverhoudinge net so belangrik soos gewigte en die korrekte tegniek. Hy is altyd vriendelik en sal ’n beweging tot vervelens toe, én met Job se geduld, aan ’n lid verduidelik.

“Almal wat kom oefen, is vir my ewe belangrik – dit maak nie saak of ’n persoon al ’n ervare CrossFitter is wat aan kompetisies deelneem of iemand is wat gister met sy fikswordreis begin het nie. Terselfdertyd is ’n lid se veiligheid die absolute wagwoord.

“Ek verkies dit veel eerder as iemand 100 keer dieselfde vraag vra as wat hulle iets verkeerd doen en hulself beseer. ’n Mens leer met tyd die nodige geduld aan om enige situasie te verstaan en reg te hanteer.”

Foto: Verskaf.

RedShack se tiende verjaardagpartytjie is net ’n paar maande weg en volgens Hofmeyr is getroue lede die hoofrede vir die box (soos wat CrossFit-gimnasiums bekendstaan) se sukses.

Van die CrossFitters stap reeds van RedShack se openingsdag ’n pad saam met hom en dit lyk nie of hulle enigsins van plan is om die fiksheidshanddoek in te gooi nie.

Net soos met enige onderneming, het hulle al uitdagings en opwindende veranderinge langs die pad teëgekom.

“Daar was intussen ’n wêreldwye pandemie saam met al die finansiële druk wat daarmee gepaardgaan, terwyl ’n nuwe bestuurspan ook nou aan stuur van sake by RedShack is. Tog, wanneer ek vroegoggend uit my motor klim, is daar reeds iemand wat besig is om vir die oefensessie litte los te maak.”

Hofmeyr is al 12 jaar by die sportsoort betrokke, maar hy sal jou vertel dat die gogga hom nie onmiddellik gebyt het nie.

“Toe ek destyds vir die eerste keer gehoor het wat CrossFitters alles doen, het ek gedink dat hulle van lotjie getik is!”

Hy het egter toe self ’n klas of twee bygewoon en daarvan gehou, terwyl ’n dokumentêre program oor Finland se Mikko Salo vir die finale oortuigingswerk gesorg het.

“Ek was daarna oortuig dat dit die loopbaanrigting is wat ek wil inslaan.”

Riaan Hofmeyr mag dalk nie wêreldwyd of selfs landwyd buite CrossFit-kringe bekend wees nie, maar vir plaaslike CrossFitters is hy ongetwyfeld ’n legende wat ’n groot verskil in hul lewens en gesondheid maak.

En dit is eintlik al wat saak maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.