Nog geen verklaring vir speler se skielike ineenstorting

Denemarke se Christian Eriksen tydens die UEFA EURO 2020 Groep B-sokkerwedstryd tussen Denemarke en Finland in Kopenhagen (12 Junie 2021) (Foto: Hannah McKay/POOL/AFP)

Denemarke se spandokter het Sondag gesê daar is nog steeds “geen verduideliking nie” ná Christian Eriksen Saterdag tydens sy land se Euro 2020-sokkerwedstryd teen Finland op die veld ineengestort het nie.

“Daar is nog nie enige verklaring nie,” het spandokter Morten Boesen tydens ʼn perskonferensie gesê. Hy het bygevoeg alle toetse wat tot dusver op die speler uitgevoer is, het normaal teruggekom en daar was geen teken van ʼn onderliggende gesondheidstoestand nie.

Eriksen is steeds in die hospitaal in ʼn stabiele toestand.

Die Inter Milan-ster het in die 43ste minuut van die wedstryd in Kopenhagen skielik ineengesak en bewegingloos bly lê terwyl paramedici KPR toegepas het. Hy het sowat 15 minute lank bly lê voor hy van die veld afgedra en na ʼn hospitaal geneem is.

Denemarke se spelers reageer terwyl paramedici na Chrstian Eriksen omsien (12 Junie 2021) (Foto: Liselotte Sabroe/Ritzau Scanpix/AFP)

Die wedstryd is tydelik opgeskort terwyl daar vir bevestiging gewag is oor Eriksen se toestand. Ná berigte dat hy stabiel en by sy bewussyn is, het die wedstryd later die aand hervat met ʼn 1-0 oorwinning vir Finland.

Eriksen het nog nooit Covid-19 gehad nie en is ook nie ingeënt nie, het die uitvoerende hoof van Inter, Giuseppe Marotta, gesê.

“Ons het vanoggend met Christian Eriksen gesels,” het die Deense sokkervereniging DBU Sondag op Twitter gesê. “Hy stuur groete aan sy spanmaats. Sy toestand is stabiel, maar hy bly in die hospitaal vir verdere ondersoek.”

DBU se geskeduleerde oefensessie is onbepaald uitgestel, het uitsaaier TV2 berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.