Nóg halfeindstryd-aksie wag op Sinner

Jannik Sinner is deur na nóg ’n halfeindstryd. (Foto: X/ATP)

As Jannik Sinner in Romeinse tye geleef het, sou die keiser hom waarskynlik al met ʼn lourierkrans of ʼn standbeeld naby die Circus Maximus beloon het. Want die jong Italianer wen deesdae links en regs tenniswedstryde.

Sinner het na sy vierde halfeindstryd van die jaar deurgedring toe hy vir Thomas Machac met 6-4 en 6-2 in die Miami-ope geklop het.

“Ek het vandag goeie tennis gespeel, veral in die belangrike oomblikke van die wedstryd. Ek is baie bly om weer in ʼn Miami-halfeindstryd te wees,” het die Australiese Ope-kampioen gesê.

Machac mag dalk met ʼn paar vurige rughandhoue laat waai het, maar Sinner het ongetwyfeld sy man gestaan wanneer daar houe verwissel word.

Die Italianer was na afloop van die wedstryd vol lof vir sy Tsjeggiese teenstander.

“Thomas is ʼn ongelooflike talentvolle speler – hy is blitsvinnig op die baan en baie fiks. Maar ek oefen ook baie hard om hierdie wedstryde te wen en dit is veral vir my spesiaal om in Miami te wen.”

Sinner het sy eerste proesel van ʼn Meesterstoernooi-eindstryd in Miami gekry. Hy sal nou in die halfeindstryd teen Daniil Medvedev te staan kom.

In die vroueafdeling het Ekaterina Alexandrova, die speler wat Iga Swiatek uitgeskakel het, met nog ʼn groot naam afgereken.

Die Russiese speler het Jessica Pegula met 3-6, 6-4 en 6-4 in ʼn kwarteindstryd-wedstryd geklop.

“Sjoe, dit was ʼn baie moeilike wedstryd want Jessica het goed gespeel. In die derde stel het ek by tye nie geweet hoe sy die bal weer oor die net gejaag het nie,” het Alexandrova gesê.

“Ek het elke liewe punt benader met die wete dat sy enige plek op die baan kan wees. Ek moes dus noodgedwonge elke geleentheid met al twee hande aangryp.”

Uitslae:

Jannik Sinner klop Thomas Machac met 6-4 en 6-2 (kwarteindstryd)

Daniil Medvedev klop Nicolas Jarry met 6-2 en 7-6 (kwarteindstryd)

Ekaterina Alexandrova klop Jessica Pegula met 3-6, 6-4 en 6-4 (kwarteindstryd)

Danielle Collins klop Caroline Garcia met 6-3 en 6-2 (kwarteindstryd)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.