Erin Burger het haar uittrede uit internasionale netbal aangekondig.
Die 32-jarige Burger het haar finale Protea-wedstryd in die afgelope Wêreldbeker-netbaltoernooi teen Engeland gespeel en het sodoende haar roemryke loopbaan van 12 jaar op ’n gepaste noot afgesluit: Sy het in 2007 haar buiging teen die einste Engelse gemaak.
Haar 125 wedstryde – hoofsaaklik op senter – is ’n Protea-rekord en sy het in ’n rits internasionale reekse gespeel, waaronder die Wêreldbeker in 2011 toe sy as die speler van die toernooi in Singapoer aangewys is.
“Om vir Suid-Afrika op die netbalbaan te verteenwoordig is een van die beste dinge waarvoor ek ooit kon gevra het,” het sy gesê.
“Dit was ’n absolute voorreg om te kon speel en ek het soveel as ’n speler en persoon gegroei. Terselfdertyd wil ek ook vir Netbal Suid-Afrika vir hul volgehoue ondersteuning bedank. Julle het ’n jong meisie soos ek – toe ek my buiging as ’n 19-jarige gemaak het – die geleentheid gegee om haar drome uit te leef.”
Burger speel deesdae haar eersterangse netbal in Australië, waar sy vir die Queensland Firebirds in die SunCorp-liga uitdraf.
“Ons is baie geseënd dat ’n briljante speler soos Erin vir die Spar Proteas gespeel het. Dit is altyd ’n plesier om met spelers van haar kaliber te werk. Sy was ’n ware ambassadeur van die spel en mens kon altyd op haar knoppie druk,” het Netbal Suid-Afrika se Cecilia Molokwane gesê.
- Suid-Afrika se Karla Pretorius is ’n finalis as sportster van die jaar in Australië se QSport Awards. Ander sterre wat benoem is, sluit Ash Barty en Marnus Labuschagne in.
Baie geluk, jy maak ons trots.