Novak jag agtste Wimbledon-titel

Novak Djokovic. (Foto: Tetsu Joko/The Yomiuri Shimbun via AFP)

Selfs ná 23 Grand Slam-titels sal Novak Djokovic beslis nie sy voet van die versnelpedaal haal wanneer hy later vandag teen Carlos Alcaraz in die Wimbledon-eindstryd speel nie.

Sy ambisievlam brand nog hopeloos te helder.

“Daar is mense wat dink dat ek ʼn sug van verligting geslaak het toe ek my 23ste titel in Parys gewen het. Ek het nie. My doelwit is eintlik doodeenvoudig: Ek wil met die louere wegstap,” het die Serwiese ster gesê.

Grand Slam-oorwinnings is immers nou heel bo aan sy prioriteitslys.

Djokovic jag sy agtste Wimbledon-titel en vyfde eindstrydsege op ʼn streep. Ondanks sy silwerware-sukses erken hy dat die senuwees steeds knaag. Druk speel ongetwyfeld ʼn rol.

“Die senuweeskoenlappers fladder steeds vóór elke liewe wedstryd; daarom gaan ek hierdie eindstryd benader asof dit my eerste een is. Ek kan nie bekostig om te ontspan, agteroor te sit en te kyk hoe dinge ontvou nie. My benadering gaan nie verander nie – ek gaan met erns en toewyding speel.”

Hy sien ook uit om kragte teen Alcaraz te meet; ʼn speler wat 16 jaar jonger is as hy. Tog het Djokovic ná een van sy Wimbledon-oorwinnings in aanloop tot die eindstryd geskerts dat 36 die nuwe 26 is – ʼn stelling wat hy met elke wenhou en flinke danspassie op die baan onderstreep.

“Hierdie eindstryd teen Carlos is die een waarna almal uitgesien het. Dit is weliswaar sy eerste eindstryd op Wimbledon, maar ons al twee speel tans goeie tennis.

“Hy is jonk. Hy is gemotiveerd. Hy is honger vir sukses. Maar ek is ook baie honger; kom ons skuif nader vir ʼn tennisfees.”

Die wedstryd begin vanmiddag om 15:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.