Novak marsjeer voort in Melbourne

Novak Djokovic het binne ’n japtrap met sy Franse teenstander in Melbourne klaargespeel. (Foto: X/ATP Tour)

Novak Djokovic is net drie wedstryde weg van ʼn 11de Australiese Ope-titel nadat hy vir Adrian Mannarino in die vierde ronde van die jaar se eerste Grand Slam-toernooi  van die baan gevee het.

Die eindtelling was 6-0, 6-0 en 6-3 in die Serwiër se guns.

“Die eerste twee stelle was van die beste tennis wat ek in ʼn hele ruk gespeel het,” het Djokovic ná afloop van die kragmeting gesê.

Hy het 13 potte op ʼn streep gewen voordat die Fransman uiteindelik (soort van) sy voete kon vind.

Danksy die klinkende sege gaan die 36-jarige speler nou vir die 58ste keer in sy loopbaan in ʼn Grand Slam-kwarteindstryd afslaan; ʼn prestasie wat hy met Roger Federer deel.

Hy sal Woendag teen Taylor Fritz in een van die kwarteindstryde rakette kruis.

19-jarige té sterk vir topgekeurde

In die vroueafdeling het die 19-jarige Linda Noskova vir ʼn opskudding gesorg toe sy die topgekeurde Iga Swiatek met 3-6, 6-3 en 6-4 uitgeskakel het.

Die nederlaag beteken dat die Pool nou nóg langer sal moet wag om die silwerware in Melbourne omhoog te hou.

“Ek het ná die eerste stel gedink dat ek dinge onder beheer het, totdat sy in die tweede stel my afslaanpot gewen het. Toegegee, ek het ʼn paar geleenthede gehad om terug te veg, maar ek het dit deur my vingers laat glip. Dit is ʼn jammerte,” het Swiatek gesê.

Dit is slegs die tweede keer in die 22-jarige wêreldnommereenspeler se loopbaan dat sy teen ʼn jonger speler die onderspit delf.

  • Uitslae:

Mans:

Taylor Fritz klop Stefanos Tsitsipas met 7-6, 5-7, 6-3 en 6-3

Novak Djokovic klop Adrian Mannarino met 6-0, 6-0 en 6-3

Alexander Zvererv klop Alex Michelsen met 6-2, 7-6 en 6-2

Daniil Medvedev klop Felix Auger-Aliassime met 6-3, 6-4 en 6-3

Cameron Norrie klop Casper Ruud met 6-4, 7-6, 6-4 en 6-3

Vroue:

Aryna Sabalenka klop Amanda Anisimova met 6-3 en 6-2

Coco Gauff klop Magdalena Frech met 6-1 en 6-2

Linda Noskova klop Iga Swiatek met 3-6, 6-3 en 6-4

Elina Svitolina klop Viktorija Golubic met 6-2 en 6-3

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.