Novak se kleibaanseisoen begin vandag

Novak Djokovic. Foto: Valery Hache/AFP.

’n Tuimeltrein-ervaring is dalk die beste woord om Novak Djokovic se aanloop tot die 2022-tennisseisoen te beskryf.

Die Serwiese ster is uit Australië gedeporteer, sy inentingstatus het ’n hele paar belangrike mense laat frons en hy het selfs sy eerste plek op die ATP-ranglys (vir ’n ruk) aan Daniil Medvedev afgestaan.

Sy kleibaanseisoen begin egter amptelik vandag wanneer hy in die Monte Carlo-meesterstoernooi teen Spanje se Alejandro Davidovich Fokina afslaan.

“Die afgelope paar maande was ongetwyfeld ’n uitdaging vir my – geestelik én emosioneel. Ek is egter gereed om aan te beweeg,” het Djokovic gesê.

Die wêreld se nommereenspeler is die verdedigende Franse Ope-kampioen en hy sal volgende maand sy titel op Roland Garros wil verdedig.

“Ek het steeds genoeg motivering om die jong spelers aan te vat, terwyl ek terselfdertyd die wêreld se voorste spelers vir die groot titels wil uitdaag. Verlede jaar se sege in Parys is steeds vars in my geheue en dit dien as inspirasie om die kleibaanseisoen op die bes moontlike manier af te skop.”

Al het die Australiese Ope-fiasko nie sy loopbaan heeltemal ontspoor nie, is daar tog dae wanneer twyfel té na aan die oppervlak is.

“Soms is dit iets waarmee ek op ’n daaglikse grondslag worstel – iets wat ek nog nooit vantevore ervaar het nie. Ek wil dit egter as motivering vir die komende toernooie gebruik.”

Patrick Mouratoglou, die bekende tennisafrigter en -kommentator, het vroeër sy raket ter verdediging van Djokovic geswaai.

“Daar is baie mense wat meen dat Novak Djokovic nie ’n opregte, geloofwaardige persoon is nie en net speel om geliefd te voel. Ek glo egter dat hierdie opvatting glad nie die waarheid is nie,” het Mouratoglou in ’n video op sosiale media gesê.

“Dade tel egter soveel meer as net woorde. Baie mense kan uitstekend voorgee en maak of hulle opreg en geloofwaardig is, maar uiteindelik is dade al wat tel.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Treurwilger ·

Sterkte, Novak!
Die Aussies kan altyd onthou word as die ‘nincompoops’ wat die No1 Kampioen tennisspeler se loopbaan gekelder het op ‘n kritieke tydstip.
Hoop hulle is trots op hulself.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.