Novak struikel op klei teen jong Italianer

Novak Djokovic wens Lorenzo Musetti geluk met sy vertoning. (Foto: Valery Hache/AFP)

Wind, reën en ʼn 21-jarige Lorenzo Musetti het Novak Djokovic by die Monte Carlo-meesterstoernooi in sy spore gestuit.

Die jong Italianer het die wedstryd – wat deur reën onderbreek is – met 4-6, 7-5 en 6-4 gewen.

“Ek probeer my bes om nie in trane uit te bars nie. Dit was ʼn emosionele sege omdat dit so ʼn uitgerekte wedstryd was. Toestandgewys was dinge hoegenaamd nie maklik nie – die wind het gewaai en dit was koud – maar hierdie is beslis ʼn droom wat waar geword het,” het Musetti ná afloop van die kragmeting gesê.

Dit het aanvanklik gelyk of die skrif aan die muur vir die Italiaanse speler was.

Djokovic het die eerste stel met 6-4 beklink en hy het ʼn voorsprong van 4-2 in die daaropvolgende stel geniet, voordat Musetti na ʼn hoër rat geskakel het.

Hy het die Serwiër se afslane getem en sy flinke spel het gesorg dat die wêreld se voorste speler ʼn spul ongedwonge foute begaan.

“Dit het naderhand begin voel of die houereekse ʼn ewigheid duur en dit was ʼn baie taai stryd. Maar om vir Novak te klop; dit voel steeds onwerklik.”

Dan het Daniil Medvedev nóg ʼn wedstryd teen Alexander Zverev gewen toe hy in drie stelle (3-6, 7-5 en 7-6) as oorwinnaar van die baan gestap het.

Stefanos Tsitsipas en Jannik Sinner is ook nog op koers nadat hulle onderskeidelik met Nicolas Jarry en Hubert Hurkacz afgereken het.

  • Uitslae:

Daniil Medvedev klop Alexander Zverev met 3-6, 7-5 en 7-6

Lorenzo Musetti klop Novak Djokovic met 4-6, 7-5 en 6-4

Stefanos Tsitsipas klop Nicolas Jarry met 6-3 en 6-4

Taylor Fritz klop Jiri Lehecka met 4-6, 6-4 en 6-1

Andrey Rublev klop Karen Khachanov met 7-6 en 6-2

Jannik Sinner klop Hubert Hurkacz met 3-6, 7-6 en 6-1

Jan-Lennard Struff klop Holger Rune met 6-1 en 7-6.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

George ·

Novak gaan nou weer vol verbande wees, hy was seker “seer”

Treurwilger ·

Ag toemaar, Novak, eerder nou as by die Franse Ope.
Hou moed!
Veels geluk, Musetti!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.