Novak terug op sy plek bo-aan ranglys

Novak Djokovic het sy oog op nog tennistitels. Foto: Patrick Hamilton/Belga via AFP.

Novak Djokovic is weer die wêreld se voorste speler nadat Carlos Alcaraz nie daarin kon slaag om sy Miami-titel te verdedig nie. Dit ten spyte daarvan dat hy nie aan twee onlangse toernooie in Amerika kon deelneem nie.

Dit sal die Serwiese ster se 381ste week bó-aan die internasionale tennisranglys wees; ’n rekord vir mans- en vrouespelers.

Die 35-jarige speler het tans ʼn voorsprong van 380 punte bo Alcaraz en al twee spelers sal binnekort in die Monte Carlo-Meesterstoernooi afslaan.

Hoewel sy inentingstatus vroeër ’n stokkie voor sy deelname aan die twee hardebaantoernooie in Kalifornië en Florida gesteek het, is hy steeds oorgehaal om tenniswedstryde te wen.

“Ek wil nog soveel as moontlik Slams wen. In hierdie stadium van my loopbaan is trofees my grootste motivering om aan te hou speel en ek is nog baie gemotiveerd. Ek weet as ek goed voel – fisiek sowel as geestelik – ek nog ʼn goeie kans staan om enigiemand op die tennisbaan te klop,” het Djokovic ná sy suksesvolle Australiese Ope-veldtog gesê.

Intussen het Rafael Nadal nog ʼn plek teruggesak en hy beklee nou die 14de posisie op die amptelike ATP-ranglys.

Hy sal egter ook op die kleibane van Monte Carlo te siene wees en dit dien as die perfekte littelosmaker vir sy geliefde Franse Ope in Parys.

Volgens Casper Ruud – die man wat juis in ʼn baie eensydige Roland-Garros-eindstryd verlede jaar die onderspit teen die “koning van klei” gedelf het – sal hy nie verbaas wees as Nadal wéér met die louere wegstap nie.

“Dit sal nie vir my ʼn verrassing wees nie, want hy gebruik sekerlik hierdie tyd om vir Roland-Garros voor te berei. Dit maak nie saak of hy in Monte Carlo, Rome of Madrid vasval nie. Die enigste ding waaraan Rafa waarskynlik deesdae dink, is om fiks, gesond en gereed vir die Franse Ope te wees,” het die Noorse speler gesê.

  • ATP-ranglys:
  1. Novak Djokovic: 7 160 punte
  2. Carlos Alcaraz: 6 780 punte
  3. Stefanos Tsitsipas: 5 770 punte
  4. Daniil Medvedev: 5 150 punte
  5. Casper Ruud 5 005 punte
  6. Andrey Rublev: 3 470 punte
  7. Felix Auger-Aliassime: 3 450 punte
  8. Holger Rune: 3 370 punte
  9. Jannik Sinner: 3 345 punte
  10. Taylor Fritz: 3 065 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Izak Danie ·

Jou doring Novak . Daar is geen stop aan die man nie .Hy is soos Michael Schumacher. Ry hulle boetie. Jou soort is dun gesaai .

Treurwilger ·

Wou ook die woord “doring” gebruik soos Izak, maar sal dit nou “koning” Novak maak.
Sowaar ‘n tenniskoning wat terug op no. 1 is terwyl hy verhoed is om n hou te speel in twee opeenvolgende toernooie.
Novak, jou doring van ‘n koning!

Christine ·

Ek staan bankvas agter Novak! Hy het nie sy beginsels prysgegee nie en kyk waar staan hy vandag! Wat ‘n voorbeeld vir almal!

George ·

Tog probeer hy alles om lande in te kom, self om openlik te lieg op dokumentasie

George ·

Hys goed, en geniet sy spel, maar Roger sal vir my die GOAT bly, al word sy rekords verbeter, net Schumacher die GOAT bly al het Hamilton en ander hom al verby gesteek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.