‘Numero uno’: Alcaraz weer die beste

Carlos Alcaraz. (Foto: Twitter/Madrid-ope)

Die jongste ATP-ranglys is bekend en Carlos Alcaraz is weer die voorste speler ter wêreld ná sy heldedade in Barcelona en Madrid.

Hoewel die 20-jarige tennissensasie taamlik vroeg in Rome uitgeskakel is, het hy genoeg gedoen om die topplek by Novak Djokovic af te rokkel.

Die Serwiër beklee tans die derde plek op die amptelike ranglys.

Dan het Daniil Medvedev en Holger Rune ook ʼn ranglyssprong of twee gemaak nadat hulle rakette in die eindstryd van die Italiaanse Ope gekruis het.

Medvedev – wat die kragmeting met 7-5 en 7-5 beklink het om sy eerste kleibaantitel in te oes – het 1 000 punte gekry om die tweede plek in te neem.

Rune se Rome-heldedade het hom ʼn sesde plek besorg; die beste ranglysvertoning van sy loopbaan.

Die aandag verskuif nou na die Franse Ope en in Rafael Nadal se afwesigheid behoort Alcaraz een van die gunstelinge te wees om die silwerware in Parys omhoog te hou.

Die Spaanse tenniskroonprins het vanjaar nog net twee van sy 22 wedstryde op ʼn kleibaan verloor, terwyl hy ook nog net nege stelle in sy kragmetings afgestaan het.

ATP-ranglys:

  1. Carlos Alcaraz: 6 815 punte
  2. Daniil Medvedev: 6 330 punte
  3. Novak Djokovic: 5 955 punte
  4. Casper Ruud: 4 915 punte
  5. Stefanos Tsitsipas: 4 775 punte
  6. Holger Rune: 4 375 punte
  7. Andrey Rublev: 4 270 punte
  8. Jannik Sinner: 3 435 punte
  9. Taylor Fritz: 3 390 punte
  10. Felix Auger-Aliassime: 3 065 punte

Ander spelers van belang:

Rafael Nadal (15de), Nick Kyrgios (25ste), Andy Murray (41ste) en Lloyd Harris (306de).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.