Einde van ʼn era – Rafa uit Franse Ope

Rafael Nadal sal nie by vanjaar se Franse Ope afslaan nie. (Foto: Kazuki Wakasuig/Yomiuri/AFP)

Rafael Nadal het Donderdag aangekondig dat sy heupbesering hom ook uit die Franse Ope sal hou. Tennisliefhebbers wêreldwyd het duimvasgehou dat die “koning van klei” gereed sal wees vir sy geliefde toernooi in Parys.

Die 36-jarige Spanjaard het reeds 14 keer die silwerware in die Franse hoofstad omhoog gehou en dit sal die eerste keer in 18 jaar wees dat hy nie op Roland-Garros sal afslaan nie.

“Dit is nie ʼn besluit wat ek neem nie, dit is ʼn besluit wat my lyf vir my geneem het,” het hy tydens ʼn mediasessie in Majorka gesê.

Die besering hou hom al sedert die Australiese Ope langs die baan en hy kon vanjaar nog net in vier wedstryde gespeel het.

“Dit is baie moeilik vir my want ons het nog nie ʼn oplossing gekry vir die probleem wat ek in Australië ondervind het nie. Ek kan nie met die nodige ingesteldheid speel wat die Franse Ope van jou verwag nie.”

Volgens die wenner van 22 Grand Slam-titels is rus dalk vir eers die beste medisyne. Die aankondiging beteken dat hy waarskynlik ook nie op die grasbane van Wimbledon te siene sal wees nie.

Rafael Nadal vier nóg ’n oorwinning op Parys se kleibane. (Foto: Anne-Christine Poujoulat/AFP.)

“Ek is onseker wanneer ek weer op die oefenbaan sal wees. Dalk oor twee, drie of selfs vier maande.”

Hy het ook aangedui dat 2024 na alle waarskynlikheid sy laaste jaar op die internasionale tennisverhoog sal wees.

“Ek kan dit wel nog nie met definitiewe sekerheid sê nie want ʼn mens weet nooit wat in die toekoms gebeur nie.”

Hy is veral hartseer om nie die beste spelers die stryd op Roland-Garros aan te sê nie. Want vir baie tennisliefhebbers is Rafael Nadal die Franse Ope en die Franse Ope is Rafael Nadal.

“Dit sal die eerste keer in jare wees dat ek nie in Parys is nie; by ʼn toernooi wat ongelooflik baie vir my beteken. Maar as ek nou aanhou speel, sal ek dalk nie volgende jaar maak nie.”

“Tog sal Roland-Garros maar altyd Roland-Garros wees. Dit maak nie saak of ek daar is of nie.”

Nadal sal egter wil speel om te wen. En sy lyf laat dit tans nie toe nie.

Die Spanjaard het die Franse Ope in 2005, 2006, 2007, 2008, 2010, 2011, 2012, 2013, 2014, 2017, 2018, 2019, 2020 en in 2022 gewen.

Martina Navratilova het destyds die Spanjaard vir sy toewyding geloof.

“Mense gaan eendag boeke oor jou loopbaan skryf om ander te probeer aanspoor om soos jy te wees. Ek het oneindige respek vir jou en ek is mal daaroor om jou te sien speel. Trouens, ek wens dat jy nooit sal uittree nie want dan kan jy dalk 30 titels op Roland-Garros wen,” het die tennislegende van Nadal gesê.

Maar tyd staan vir niemand stil nie. Selfs nie eens vir die “koning van klei” nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.