Nuwe jaar, dieselfde blitsige Max

Max Verstappen het die openingswedren van die nuwe F1-seisoen in Bahrein gewen. (Foto: Guiseppe Cacace/AFP)

Dit is ʼn nuwe F1-jaar, maar dit lyk of Max Verstappen steeds nie sy gelyke op die renbaan het nie.

Die verdedigende wêreldkampioen het die openingswedren in Bahrein op ʼn drafstap gewen – hy was meer as 20 sekondes vinniger as sy Red Bull-spanmaat Sergio Perez in die tweede plek.

“Dit was doodeenvoudig ongelooflik. Ek dink vandag het veel beter verloop as wat ek verwag het. Die renmotor was ʼn plesier om te bestuur en ons het nie met een van ons bandkeuses gesukkel nie. Dit is ʼn uitstekende aanloop tot die jaar,” het Verstappen gesê.

Die 26-jarige Nederlander is ongetwyfeld op koers om sy vierde wêreldtitel op ʼn streep in te oes nadat hy verlede jaar 19 van die 22 wedrenne gewen het.

“Ek het die wedren baie geniet – dit was pret. Dit is eintlik spesiaal om dae soos vandag te hê want dit gebeur nie te gereeld waar dinge renmotorgewys net reg verloop nie.”

Die rooi Ferrari’s was derde en vierde oor die wenstreep, met Carlos Sainz wat die wedren voor spanmaat Charles Leclerc voltooi het.

Sainz moet volgende jaar plek maak vir Lewis Hamilton en die Spanjaard het alles in sy vermoë gedoen om sy waarde tot die span te onderstreep.

Hy het lekker aanvallend bestuur en veral sy swaardkruissessies met Leclerc het tot die opwinding bygedra.

“Dit was ʼn aangename verrassing toe ons teen die einde van die wedren by Red Bull kon bly. Ons is steeds nie waar ons moet wees nie, maar dit is beslis ʼn verbetering op verlede jaar se poging,” het Sainz gesê.

Die volgende wedren word Saterdag in Saoedi-Arabië beslis.

Uitslae:

  1. Max Verstappen (Red Bull)
  2. Sergio Perez (Red Bull)
  3. Carlos Sainz (Ferrari)
  4. Charles Leclerc (Ferrari)
  5. George Russell (Mercedes)
  6. Lando Norris (McLarren)
  7. Lewis Hamilton (Mercedes)
  8. Oscar Piastri (McLaren)
  9. Fernando Alonso (Aston Martin)
  10. Lance Stroll (Aston Martin)

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen: 26 punte
  2. Sergio Perez: 18 punte
  3. Carlos Sainz: 15 punte
  4. Charles Leclerc: 12 punte
  5. George Russell: 10 punte
  6. Lando Norris: 8 punte
  7. Lewis Hamilton: 6 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Red Bull: 44 punte
  2. Ferrari: 27 punte
  3. Mercedes: 16 punte
  4. McLaren: 12 punte
  5. Aston Martin: 3 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.