Onbekende Seyboth Wild boender Medvedev uit Ope

Thiago Seyboth Wild het Daniil Medvedev in die Franse Ope geklop. (Foto: Twitter/Franse Ope)

Thiago Seyboth Wild, ʼn Brasiliaanse tennisspeler wat 172ste op die wêreldranglys is, het vir ʼn hengse opskudding gesorg toe hy vir Daniil Medvedev in die Franse Ope uitgeskakel het.

Die telling was 7-6, 6-7, 2-6, 6-3 en 6-4 in die Suid-Amerikaner se guns. Dit was boonop sy eerste amptelike Grand Slam-wedstryd in Parys.

“Ek het nog altyd Daniil se loopbaan gevolg en om nie net teen hom te speel nie, maar ook te klop, is ʼn droom wat waar geword het,” het die 23-jarige speler gesê.

Volgens Seyboth Wild het sy wedstrydplan ʼn voorhandhou-aanslag behels en dit het goed uitgewerk.

“In die tweede stel het ek met krampe gesukkel, maar ek wou so graag my beste tennis teen hom gespeel het. Ek is baie trots op my vertoning.”

Dan het Lloyd Harris in drie stelle (7-6, 7-6 en 6-1) die onderspit teen Duitsland se Alexander Zverev gedelf.

Die 26-jarige Suid-Afrikaner, wat met ʼn kuitbesering gesukkel het, het in die tweede stel ʼn voorsprong van 5-4 geniet, maar hy kon nie die wa deur die drif trek nie.

Uitslae:

Bianca Andreescu klop Victoria Azarenka met 2-6, 6-3 en 6-4

Iga Swiatek klop Cristina Bucsa met 6-4 en 6-0

Elena Rybakina klop Brenda Fruhvirtova met 6-4 en 6-2

Lesia Tsurenko klop Barbora Krejcikova met 6-2 en 6-4

Coco Gauff klop Rebeka Masarova met 3-6, 6-1 en 6-2

Ons Jabeur klop Lucia Bronzetti met 6-4 en 6-1

Gael Monfils klop Sebastian Baez met 3-6, 6-3, 7-5, 1-6 en 7-5

Grigor Dimitrov klop Timofey Skatov met 6-0, 6-3 en 6-2

Taylor Fritz klop Michael Mmoh met 6-2, 6-1 en 6-1

Arthur Rinderknech klop Richard Gasquet met 6-4, 2-6, 6-2 en 7-6

Holger Rune klop Christopher Eubanks met 6-4, 3-6, 7-6 en 6-2

Thiago Seyboth Wild klop Daniil Medvedev met 7-6, 6-7, 2-6, 6-3 en 6-4

Alexander Zverev klop Lloyd Harris met 7-6, 7-6 en 6-1

Casper Ruud klop Elias Ymer met 6-4, 6-3 en 6-2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.