Op ʼn tennisbaan is niks Grieks vir Sinner

Jannik Sinner in aksie in Turyn. (Foto: Tiziana Fabi/AFP)

Jannik Sinner het sy ATP-eindrondeveldtog op ʼn wennoot begin toe hy vir Stefanos Tsitsipas met 6-4 en 6-4 in Turyn geklop het.

Dit was die jong Italianer se derde oorwinning teen sy Griekse teenstander en hy het altesaam 22 wenhoue gemoker.

“Ek was opgewonde om op die baan te stap en die eerste wedstryd van die ATP-eindronde te speel. Ek het geweet dat Stefanos dinge vir my sou moeilik maak, maar ek dink dat ek die druk goed hanteer het. Ek het so aggressief moontlik probeer speel en ek is baie tevrede met my vertoning,” het Sinner gesê.

Djokovic sluit jaar as wêreld se topspeler af

Novak Djokovic het oudergewoonte gedoen wat hy beloof het en hy het met Holger Rune klaargespeel om die jaar as die wêreld se voorste tennisspeler af te sluit.

Die 36 jarige Serwiër – wat Rune met 7-6, 6-7 en 6-3 geklop het – moes net een wedstryd in Turyn wen om dié prestasie te vermag.

Dit is die agtste keer in sy loopbaan dat hy die tennisjaar in die topplek op die ATP-ranglys afsluit en hy vier binnekort sy 400ste week as die wêreldnommereen-speler.

“Die oorwinning beteken baie vir my – ʼn mens kon sien dat ek emosioneel op die baan was. Ek is dankbaar dat ek hierdie groot doelwit kon bereik en enige bykomende sukses is nou net ʼn bonus,” het Djokovic gesê.

Uitslae:

Novak Djokovic klop Holger Rune met 7-6, 6-7 en 6-3

Jannik Sinner klop Stefanos Tsitsipas met 6-4 en 6-4

Spelers wat die meeste kere die jaar as die wêreld se voorste speler kon afsluit:

  1. Novak Djokovic: 8
  2. Pete Sampras: 6
  3. Roger Federer, Jimmy Connors en Rafael Nadal: 5

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.