Plummer kies haar Wêreldbeker-groep

Norma Plummer – Protea-afrigter. (Foto: Twitter.)

Die Wêreldbeker-netbaltoernooi word oor minder as 70 dae in Kaapstad beslis en Norma Plummer het haar Protea-groep vir die internasionale skouspel gekies.

Bongi Msomi sal oudergewoonte die span vanuit haar senterposisie op die baan aanvoer, terwyl Karla Pretorius die onderkaptein is.

Die 33-jarige Pretorius is een van wêreldnetbal se supersterre. Sy is al ʼn paar keer as die Sunshine Coast Lightning se speler van die jaar in Australië aangewys, terwyl sy ook tydens die vorige Wêreldbeker-skouspel in Liverpool as die speler van die toernooi aangewys is.

Dan is ou bekendes soos Shadine van der Merwe en Lenize Potgieter in die groep, terwyl Lefébre Rademan en Ine-Marí Venter dinge in die doelsirkel vir hul teenstanders kan bemoeilik.

Volgens Plummer het van die spanlede reeds vanaf 7 Mei in Stellenbosch laer getrek waar daar hard aan tegniese en taktiese vaardighede geskaaf word. ʼn Paar oefenwedstryde was ook op die spyskaart.

Spelers wat in oorsese toernooie speel – soos Potgieter en kie – was egter nog nie deel van die opset nie.

“Ons glo die 15 spelers wat ons gekies het, is ons beste opsies,” het Plummer gesê.

Dit sal die 78-jarige Australiër se tweede Wêreldbeker-toernooi saam met die Proteas wees nadat sy ook in 2019 die afrigtersleisels vasgevat het.

Nodeloos om te sê kan die tuisspan se ondersteuners met ʼn bykomende speler op die baan vergelyk word.

“Ons is baie lief vir ons tuisskare en die ander spanne het ook gesê dat ons ongelooflike ondersteuning geniet. As ʼn span is ons dankbaar dat ons so ʼn loud crowd in ons hoek het en ons waardeer hul ondersteuning,” het Van der Merwe tydens die vierhoekige reeks vroeër vanjaar gesê.

En wanneer dit Wêreldbeker-tyd is, kan die ondersteuning selfs meer entoesiasties wees.

Protea-groep vir Wêreldbeker: Khanyisa Chawane, Izette Griesel, Phumza Maweni, Bongi Msomi (kaptein), Owethu Ngubane, Refiloe Nketsa, Lenize Potgieter, Karla Pretorius (onderkaptein), Lefébre Rademan, Nicola Smith, Jeanté Strydom, Nichole Taljaard, Elmeré van der Berg, Shadine van der Merwe en Ine-Marí Venter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.