Rafa word 35 – wat sal die kersie op die koek wees?

Foto: Martin Bureau/AFP.

Rafael Nadal vier vandag sy 35ste verjaardag met ’n wedstryd in sy geliefde Franse Ope-toernooi teen die Fransman Richard Gasquet. Weens die aandklokreël in Parys sal geen toeskouers egter toegelaat word nie.

Die Franse tennisbeheerliggaam (FFT) het vroeër ’n standbeeld van die Spaanse “Koning van Klei” by Roland Garros opgerig. En hoewel hy ongetwyfeld die unieke eerbetoon verdien, sal ’n 14de Franse Ope-titel die kersie op die koek wees.

Sedert Nadal in 2005 vir die eerste keer die trofee in die Franse hoofstad omhoog gehou het, kon slegs Stan Wawrinka, Roger Federer en Novak Djokovic ook met die titel wegstap.

“Ek dink nie ons gaan weer iets soortgelyks in ons leeftyd sien nie. Sy statistieke op Roland Garros sorg vir ongelooflike leesstof en dit sal nie sommer ooit verbeter word nie,” het sy landgenoot Roberto Bautista Agut gesê.

Selfs Djokovic, die wêreld se voorste speler, kou harde bene teen Nadal op kleibane.

Die Serwiër is in verlede jaar se Franse Ope-eindstryd verrinneweer, terwyl hy ook in die afgelope Italiaanse Ope die knie moes buig.

“Ek is maar tog te bewus van die feit dat Rafa die beste speler op kleibane is,” het Djokovic eens ná nog ’n kleibaanloesing teen Nadal gesê.

Die Spanjaard het sy 31ste agtereenvolgende oorwinning op Roland Garros behaal toe hy vir Australië se Alexei Popyrin met 6-3, 6-2 en 7-6 geklop het.

Hoewel sport ’n onsekere storielyn kan volg, hoop baie sportliefhebbers dat Nadal se 2021- Franse Ope-sprokie ’n perfekte einde sal hê.

Martina Navratilova het dinge raakgevat toe sy by hom gepleit het om nooit uit te tree nie.

“Mense gaan eendag boeke oor jou loopbaan skryf om vir ander te probeer aanspoor om soos jy te wees. Ek het oneindige respek vir jou en is mal daaroor om jou te sien speel. Trouens, ek wens dat jy nooit sal uittree nie, want dan kan jy dalk 30 titels op Roland Garros wen,” het die tennislegende van Nadal gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Moedeloos ·

Baie geluk Rafa. My grootste wens is om hom te kan sien speel. Maak nie saak waar nie maar in so groot toernooi.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.