Red Bull het vlerke, maar 23 wedrenne is ʼn marathon

Red Bull se Christian Horner. Foto: Andrej Isakovic/AFP.

Sy renjaers mag dalk eerste en tweede in Bahrein geëindig het, terwyl hul renmotors ook oor aansienlik meer woema as hul teenstanders beskik het.

Tog glo Christian Horner dat harde werk steeds Red Bull se voorland is, selfs al het Mercedes se George Russell gesê dat geen ander span tans by hulle kan kers vashou nie en dat hulle vanjaar elke liewe wedren behoort te wen.

“Ons aanvaar niks as vanselfsprekend op die renbaan nie. Kom ons kyk eers hoe lyk dinge ná Jeddah en Melbourne wanneer ons twee of drie wedrenne agter die blad het. Ons behoort dan eers ʼn meer volledige prentjie van elke span se sterk en swak punte te hê,” het die Red Bull-spanbaas gesê.

Hy het dit benadruk dat hoewel spoed die wagwoord in dié sportsoort is, 23 wedrenne vergelykbaar is met ʼn marathon en die uiteindelike wêreldkampioen kan eers ná die finale resies aangekondig word.

“Ons verwag dat ons teenstanders definitief hul teenwoordigheid op die baan in toekomstige wedrenne sal laat geld.”

Red Bull oorheers egter deesdae die F1-wêreld. Hulle het tien van die laaste 12 wedrenne gewen en dit lyk nie of hulle binnekort ingehaal kan word nie.

F1 is ʼn sport waar enigiets kan gebeur – onbetroubare motors, spanstrategieë en ongelukke het alles ʼn invloed op die finale uitslag.

Hoewel Fernando Alonso die afgelope Sondag ʼn meesterlike vertoning agter die stuur van sy Aston Martin gelewer het, het die Red Bull-span met ʼn paar kwinkslae vorendag gekom.

Dan Fallows was een van die sleutelfigure in Red Bull se aerodinamiese afdeling voordat hy die skuif na Aston Martin gemaak het om hul tegniese direkteur te word.

“Dit is lekker om drie Red Bulls op die podium te sien,” het Sergio Perez ná die Bahrein-wedren geskerts terwyl Alonso in die agtergrond gelag het.

Die volgende wedren is op 19 Maart in Saoedi-Arabië.

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen: 25 punte
  2. Sergio Perez: 18 punte
  3. Fernando Alonso: 15 punte
  4. Carlos Sainz: 12 punte
  5. Lewis Hamilton: 10 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Red Bull: 43 punte
  2. Aston Martin: 23 punte
  3. Mercedes: 16 punte
  4. Ferrari: 12 punte
  5. Alfa Romeo: 4 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.