Renjaers steun Latifi ná doodsdreigemente

Nicholas Latifi. Foto: Twitter.

Renjaers soos George Russell en Lando Norris het hul gewig by Nicholas Latifi ingegooi nadat die Kanadese renjaer onder aanlyn boelies deurgeloop het.

Latifi se botsing het indirek daartoe gelei dat Max Verstappen uiteindelik as die nuwe F1-wêreldkampioen aangewys is. Tot die ongeluk was Lewis Hamilton op koers om sy agtste kampioenskapstitel in te oes.

Die 26-jarige Williams-renjaer het sedertdien ’n verklaring uitgereik waarin hy sê dat hy selfs doodsdreigemente ná die gebeure in Abu Dhabi ontvang het.

“Ek het doelbewus ná die laaste wedren van sosiale media weggebly. Ek het duisende boodskappe ontvang; baie van hulle het my ondersteun, maar daar was tussendeur ook baie haatboodskappe,” het Latifi gesê.

Volgens die Kanadees is alle sportsterre gewoond aan negatiewe kommentaar en hulle het begrip daarvoor – maar dinge is ná Abu Dhabi heeltemal uit verband geruk.

Sport moet immers mense nader aan mekaar bring, nie uitmekaar dryf nie.

“Die grootste skok was die uitermatige haat, beledigings en selfs doodsdreigemente wat ek ontvang het. Sport is veronderstel om mense nader aan mekaar te bring, nie uitmekaar te dryf nie.

“Baie mense meen dat dit onnodig was om vir ’n goeie plek met slegs ’n paar rondes oor te baklei. Maar ek sal altyd my beste lewer – maak nie saak of ek eerste, op die podium of heel laaste eindig nie.”

Russell en Norris het intussen op sosiale media gesê dat hulle respek vir Latifi het omdat hy teen die boelies opstaan, terwyl Mercedes ook in ’n kort boodskap gesê het dat hy die Kanadese renjaer ondersteun.

“Sterk wees, Nicholas. Ons staan saam met jou in die stryd teen aanlyn haat en mishandeling,” het die motorvervaardiger getwiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.