Verstappen op dramatiese wyse gekroon as wêreldkampioen

Red Bull se Max Verstappen van Nederland vier sy oorwinning as F1-wêreldkampioen (12 Desember 2021) (Foto: Andrej Isakovic/AFP)

Hollywood kon nie ʼn beter draaiboek geskryf het vir die beslissende Abu Dhabi Grand Prix nie. Die tafel was gedek vir ʼn dramatiese tweestryd tussen Lewis Hamilton (Mercedes) en Max Verstappen (Red Bull) in die beslissende wedren. En dit was drama van die begin tot die einde.

Verstappen het voor weggespring, maar Hamilton het vinniger reageer en was reeds voor om die eerste draai. Verstappen het in die eerste ronde probeer om aan die binnekant om ʼn draai verby Hamilton te gaan. Daar was geen ruimte op die baan vir Hamilton om te draai nie en hy moes kortpad vat om nie teen Verstappen se motor te stamp nie. Ná die draai was Hamilton selfs verder voor Verstappen en hy het daardie gaping net groter gemaak. Die Red Bull-span was ongelukkig dat die wedrenbeamptes nie vir Hamilton gedwing het om aan Verstappen die eerste plek terug te gee nie.

Verstappen het reeds in die negende ronde van 58 gekla oor die toestand van die sagte bande op sy Red Bull. Dit was die einste bande wat gister aan hom die voorste wegspringplek besorg het. Hamilton het medium bande op sy Mercedes gehad.

In die 14de ronde het Verstappen kuipe toe gegaan en in die 15de ronde het Hamilton gevolg. Dit het beteken Verstappen se spanmaat Sergio Perez het voor gejaag en Hamilton het hom vinnig ingehaal. Perez het dit so moeilik moontlik gemaak vir Hamilton om hom verby te steek en het selfs in ʼn geveg met Hamilton betrokke geraak om voor te bly. Dit het aan Verstappen geleentheid gegee om in te haal en skielik was daar twee Red Bulls en Hamilton se Mercedes by mekaar.

ʼn Oorwinning vir Hamilton het soos ʼn blote formaliteit gelyk, want die gaping tussen hom en Verstappen het weer vinnig vergroot. Die Red Bulls kon nie byhou by die Mercedes se spoed nie.

Maar toe is daar in die 37ste ronde ʼn ongeluk en die virtuele veiligheidsmotor word aangekondig. Verstappen en Perez het die geleentheid aangegryp om weer kuipe toe te gaan vir nuwe bande. Toe die wedren hervat was die gaping tussen Hamilton en Verstappen slegs 17 sekondes. Hamilton was bekommerd oor die toestand van sy bande, maar sy span het besluit hy moet eerder voor bly jaag as om nuwe bande te kry en dan sy voorste plek tydelik op te gee.

Verstappen het die gaping vernou, maar met vyf rondes oor het dit nie gelyk of hy die oorblywende sowat 11 sekondes sou inhaal nie. Red Bull se spanleier, Christian Horner, het gesê: “Ons het ʼn wonderwerk nodig.”

En toe gebeur ʼn nuwe stel drama. Die Aston Martin-veiligheidsmotor is ontplooi nadat een van die motors teen ʼn muur gebots en eers verwyder moes word. Verstappen het weer by die kuipe ingejaag vir sagte bande want dit sou hom die voordeel gee bo Hamilton vir ʼn paar rondes.

Weer het die renmotors op mekaar se hakke gekom, maar mag mekaar nie verbysteek terwyl die veiligheidsmotor op die baan is nie. Toe die veiligheidsmotor van die baan is, was daar net die finale ronde oor. En dis al wat Verstappen nodig gehad het. Hy en Hamilton se motors was bitter naby aan mekaar, maar Verstappen kon hom verbysteek om sy geskiedkundige eerste bestuurderskampioenskap te beklink.

“Dis mal,” het die 24-jarige Verstappen emosioneel ná die wedren gesê. “Ek is baie lief vir die ouens in my span. Uiteindelik – ʼn bietjie geluk vir my.”

Verstappen en Hamilton het die wenner-vat-alles wedren aangepak op ʼn gelyke hoeveelheid punte. Dit is die eerste keer sedert 1974 toe Emerson Fittipaldi en Clay Regazzoni ook kop-aan-kop was voor die laaste wedren.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

MakersMark ·

En toe dit tel wys Verstappen van watter staal hy gemaak is. Laaste rondte sit hy 1.7 sek. op Hamilton na Hamilton voor was. Wie is die beter bestuurder ? Geen twyfel meer.

Dries ·

Soooo bly Max het hom ore aan gesit. Miskien net miskien sal Hamilton besef wat beteken die woord,,, nederig,,, in plaas van arogant

Vonkprop ·

Ek stem MakersMark. Nou gaan Lewis seker weer vir die res van die jaar loop en huil en stories opmaak om die aandag op hom te vestig en die vieringe van Max te probeer verdof, maar ek weet vir ‘n feit die vreugdesvure gaan vir lank baie sterk brand!

Johan ·

Hamilton as jy nie so BLM behep was nie het mense nou jammer vir jou gevoel en gese jy was ongelukkig om te verloor maar nou is Max hulle held.

jzjz05 ·

Stem , BLM behepgeit het jou baie onder steuners en vriende gekos wat nou bly is jy nie geslaag het nie

ONTPS ·

Wonderwerke gebeur nog elke dag. Ek is so bly Verstappen het gewen!

Jackie ·

Slim vang sy baas. hamilton kon ook bande geruil het maar wolf het daarteen besluit.

Ivan ·

Lewis het die wedren gedomineer. Verstappen is ‘n papierkampioen.

MakersMark ·

Dis nie wie domineer nie dis wie kry die geruite vlag. Dis die regte wenner.

Pierre ·

Die rekord “papier” sal met jou stry.
!!Viva Verstappen Viva !!

Vonkprop ·

Op papier lyk Lewis briljant. In realiteit is hy arrogant en ‘n swak verloorder.

piet ·

In teendeel, ‘n baie grasieuse “verloorder”…en hy is nie eers deur die beste jaer op die dag geklop nie. Hy het alle rede gehad om ‘n swak verloorder te wees maar was net mooi die teenoorgestelde. Klas.

piet ·

Heeltemal reg Ivan. Hy was so ver voor, dis eintlik lagwekkend dat die safety car vir Verstappen gered het sou hom nooit andersins geklop het nie. Hulle sal weer moet kyk na die reels want die voorloper word die meeste benadeel wanner die safery car ontplooi word en dit lyk nie vir my reg nie. Jy kan ver voorloop dan kom die safety car en skielik verdwyn al die harde werk om ‘n groot voorsprong op te bou in die niet. En nie net dit nie, die voorloper kan “verbygesteek” word en sy voorlopersposisie verloor as hy gedurende die safety car bande omruil. Eintlik ‘n belaglike situasie.

Elinette ·

Suur druiwetjies hier, huh? Wen/verloor in F1 gaan nie net om wie voor gejaag het vir hoeveel rondtes nie. Dit gaan ook oor strategie en beplanning asook ‘n “Plan B” as daar dalk ‘n ongeluk is. Verstappen/Team Red Bull het die twee veiligheidsmotors se ontplooiing tot hul voordeel gebruik; Hamilton/Mercedes NIE.

Harley Davidson ·

Hy moet net ‘n beter kar kry dan kan hy in Schummi se spore volg en selfs nog hoër hoogtes bereik.

Ampie ·

Daar’s hy Max, wys hulle!!! Lewis & Merc, cowboys don’t cry, kry vir julle, Max moes sy plek teruggekry het toe Lewis kortpad gevat het, Karma?

MakersMark ·

Goeie een – of “beaten last mile”. Sien wolfie wil nou howe toe hardloop. Lyk my victim mentaliteit stop nie by lewies nie. As wolfie iemand soek om te blameer moet hy in die spieël kyk. Hy het 2 geleenthede om bande te vervang geignoreer selfs nadat lewies gevra het. Horner beste strateeg het vir wolfie uitoorle en sy kanse gebruik tot op die laaste rondte.

MakersMark ·

As Mercedes enige iemand wil blameer vir hul verloor rondte is dit die spanbestuurder. Hamilton kon ook bande gaan omruil maar dalk was hul so selfversekerd hul het die geleentheid gemis. En Honda se spanbestuurder is ‘n bobaas strateeg. So toe strategie en geleentheid mekaar ontmoet wen Verstappen in een rondte met 1.7 sekondes! En wys wie is by verre tegnies die beste bestuurder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.