Rus boender Swiatek uit Miami-ope

Ekaterina Alexandrova het vir Iga Swiatek in Miami geklop. (Foto: Megan Briggs/Getty Images/AFP)

Iga Swiatek mag dalk die silwerware in Kalifornië omhoog gehou het, maar sy gaan nie dié prestasie in Florida herhaal nie.

Ekaterina Alexandrova het die wêreld se voorste vrouespeler met 6-4 en 6-2 geklop om vir die kwarteindstryd van die Miami-ope te kwalifiseer.

Dit was die Russiese speler se tweede oorwinning teen die Poolse ster nadat sy drie jaar gelede in Melbourne ook die tennissepter geswaai het.

Swiatek het weliswaar die meeste van hul tweestryde gewen.

“Ons het al ʼn paar keer teen mekaar gespeel en soms word ʼn wedstryd oor drie stelle beslis. Dit is altyd lekker om haar te klop. Ek weet nie of dit as ʼn verrassing beskou kan word nie, maar ek het baie hard op die baan gewerk,” het Alexandrova gesê.

Daarteenoor is Swiatek teleurgesteld met haar vertoning op die baan.

“Ek het werklik gedink dat ek beter hier in Miami gaan speel, maar Ekaterina was vandag beslis die beter speler.”

Volgens die 22-jarige Pool het sy veral gesukkel om Alexandrova se afslane te bemeester.

In die mansafdeling het Carlos Alcaraz te veel skietgoed vir Gael Monfils se tennistoorkunsies gehad om hul kragmeting met 6-2 en 6-4 te wen.

“Gael is ʼn ongelooflike atleet – hy kan omtrent enige bal met mening terugslaan. Maar my voorhandhou is een van my grootste wapens en ek het my bes gedoen om hom op die baan rond te jaag,” het Alcaraz gesê.

Uitslae:

Ekaterina Alexandrova klop Iga Swiatek met 6-4 en 6-2

Jessica Pegula klop Emma Navarro met 7-6 en 6-3

Danielle Collins klop Sorana Cirstea met 6-3 en 6-2

Caroline Garcia klop Coco Gauff met 6-3, 1-6 en 6-2

Carlos Alcaraz klop Gael Monfils met 6-2 en 6-4

Lorenzo Musetti klop Ben Shelton met 6-4 en 7-6

Hubert Hurkacz klop Sebastian Korda met 7-6, 6-7 en 6-3

Alex de Minaur klop Jan-Lennard Struff met 7-6 en 6-4

Alexander Zverev klop Christopher Eubanks met 7-6 en 6-3

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Renier ·

As die russe weer kan deelneem ,gee die manne se jagte ook terug.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.