Rus skakel Kyrgios in 5 stelle uit

Karen Khachanov het vir Nick Kyrgios in die kwarteindstryd van die Amerikaanse Ope uitgeskakel. Foto: Elsa/Getty Images/AFP.

Rusland se Karen Khachanov mag dalk die kishoustryd met 31-30 teen Nick Kyrgios verloor het, maar hy het beslis laaste gelag toe hy die vurige Aussie met 7-5, 4-6, 7-5, 6-7 en 6-4 in New York geklop het.

Sodoende het hy vir die halfeindstryd van die Amerikaanse Ope gekwalifiseer.

“Ek het dit gedoen!” het ʼn opgewonde Khachanov ná afloop van die wedstryd gesê.

“Ek is baie trots op myself en ek het my beste van die begin tot die einde gegee. Dit was ʼn belaglike wedstryd, maar ek was gereed vir enigiets én om vyf stelle te speel.”

Op sy beurt wou Kyrgios bitter graag die toernooi wen en hy het selfs in die aanloop tot die Khachanov-tweestryd gesê dat hy moeg daarvoor is om mense teleur te stel.

Die 27-jarige Australiër het ná die eerste stel mediese behandeling vir ʼn beenbesering ontvang, maar hy het moedig terugbaklei om die tweede en vierde stel te wen.

“Ek is verpletter en dit was eintlik ʼn geval van alles of niks – óf ek wen die toernooi óf dit eindig in teleurstelling. En tans voel dit asof hierdie toernooi ʼn mislukking is.”

Kyrgios het onder andere met Thanasi Kokkinakis (een van sy beste vriende) asook met Daniil Medvedev (die wêreld se voorste speler) in die aanloop tot die kwarteindstryd afgereken. Hy was egter vol lof vir Khachanov se deursettingsvermoë.

“Hy is ongetwyfeld ʼn vegter en hy het my veral met sy afslaanwerk op die agtervoet geplaas. Ek dink eerlikwaar – wat afslane betref – is hy die beste teen wie ek nog gespeel het. Hy kon die druk hanteer en hy het belangrike punte gewen,” het Kyrgios gesê.

Uitslae:

Karen Khachanov klop Nick Kyrgios met 7-5, 4-6, 7-5, 6-7 en 6-4

Casper Ruud klop Matteo Berrettini met 6-1, 6-4 en 7-6

Carlos Alcaraz klop Marin Cilic met 6-4, 3-6, 6-4, 4-6 en 6-3

Caroline Garcia klop Coco Gauff met 6-3 en 6-4

Ons Jabeur klop Ajla Tomljanovic met 6-4 en 7-6

Aryna Sabalenka klop Danielle Collins met 3-6, 6-3 en 6-2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.