Rus staan breed in Rune se pad

Holger Rune en Daniil Medvedev sal vandag sake om die titel in Rome uitspook. (Foto: Twitter/Italiaanse Ope)

Holger Rune en Daniil Medvedev meet vandag kragte in die eindstryd van die Italiaanse Ope in Rome.

Die jong Deense speler het onder meer met Novak Djokovic, Casper Ruud en Fabio Fognini in aanloop tot die finaal afgereken, terwyl sy Russiese teenstander met Stefanos Tsitsipas en Alexander Zverev klaargespeel het.

Maar volgens Rune is hy op sy beste wanneer hy teen die voorste spelers ter wêreld speel.

“Dit is inderdaad ʼn groot uitdaging wanneer jy teen hulle kragte meet, maar ek het al vantevore my beste spel teen die topvyf opgedis,” het die 20-jarige ster gesê.

“Terselfdertyd geniet ek dit ook om in Rome te speel; die atmosfeer is fantasties. Die entoesiastiese toeskouers sorg vir hope energie en ek is opgewonde oor die komende tweestryd.”

Hoewel Medevedev meen dat hy ʼn hardebaanspesialis is, weet hy hoe om in eindstryde die septer te swaai. Hy het immers vroeër vanjaar drie titels op ʼn streep ingeoes.

Hy weet egter dat Rune ʼn moeilike kalant op ʼn kleibaan kan wees.

“Holger het gewys dat hy selfs in die moeilikste oomblikke goeie tennis kan speel en enigiemand kan klop. Ek sien uit na die wedstryd en ek gaan op my beste moet wees,” het die 27-jarige Rus gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.