Sa-ba-‘wen’-ka!

Aryna Sabalenka het haar Australiese Ope-titel suksesvol verdedig. (Foto: X/Australian Open)

Aryna Sabalenka het net 76 minute nodig gehad om haar Australiese Ope-titel suksesvol in Melbourne te verdedig.

Die Belarussiese ster het Zheng Qinwen in ’n eensydige eindstryd met 6-3 en 6-2 oorrompel.

Sodoende het sy die eerste speler geword – sedert Victoria Azarenka meer as tien jaar gelede die einste prestasie vermag het – om die silwerware twee keer op ’n streep op Melbournepark omhoog te hou.

Sy het vandag hopeloos te veel skietgoed vir haar Chinese teenstander gehad en benewens haar kragtige houe het sy ook met slim taktiese spel vorendag gekom.

“Ek kon myself nie indink om die trofee weer hier vas te hou nie; dis ’n ongelooflike gevoel,” het Sabalenka ná afloop van die wedstryd gesê.

Die 25-jarige speler geniet dit beslis om in Australië te speel: Sy het net een van haar afgelope 29 stelle in Melbourne gehensop en dit was teen Elena Rybakina in verlede jaar se eindstryd.

“Ek wil graag al die toeskouers bedank. Dit is julle wat die toernooi spesiaal maak en dit is ’n voorreg om voor julle te speel. Ek kan nie wag om weer hier af te slaan nie.”

Dit was die 21-jarige Qinwen se eerste Grand Slam-eindstryd en sy het beloof om haar in die toekoms beter van haar taak te kwyt.

“Ek kon nou beslis beter gedoen het, maar dit is nogtans ’n ongelooflike herinnering wat ek beslis sal koester. Ek weet egter dat daar selfs groter hoogtepunte op my kan wag,” het sy gesê.

  • Jannik Sinner en Daniil Medvedev speel Sondag van 10:30 in die manseindstryd. Die wedstryd sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.