SA hokkiespan maak geskiedenis teen Duitsland

Die Suid-Afrikaanse manshokkiespan vier hul oorwinning. Foto: Twitter.

Terwyl leunstoel-kenners hul sleutelborde nadertrek om oor die Suid-Afrikaanse manshokkiespan se vertoning by die Olimpiese Spele te kla, het die span vandag vir hul ondersteuners iets gegee om oor te glimlag.

Tim Drummond se span het geskiedenis gemaak deur ’n hoogsaangeskrewe Duitse span met 4-3 in Tokio te klop.

Dit is die eerste keer in Suid-Afrika se geskiedenis dat hulle die Duitsers by ’n internasionale kompetisie kon ore aansit.

Duitsland was in Rio de Janeiro bronsmedaljewenners, terwyl hulle tans nege plekke bó Suid-Afrika op die internasionale ranglys is.

John Robbie, oudrugbyspeler en radio-omroeper, het die span op sosiale media gelukgewens.

“Dit is ’n ongelooflike prestasie, amper soos ’n amateurrugbyspan wat die Springbokke of die All Blacks klop. Met ’n bietjie meer hulp en ondersteuning kan ons hokkiespan nuwe hoogtes bereik,” het Robbie op Twitter gedeel.

Tim Drummond in aksie. Foto: Jeff Pachoud/AFP.

Vandag het Matthew Guise-Brown, Keenan Horne en Nicholas Spooner se doele gesorg dat die Suid-Afrikaners in die wedstryd bly, terwyl Mustapha Cassiem vir die wendoel (met 12 minute in die wedstryd oor) verantwoordelik was.

Ja, hulle gaan waarskynlik nie eens naby die podium kom nie – hulle het immers reeds teen Groot-Brittanje (3-1), Nederland (5-3) en België (9-4) verloor – maar vandag se wedstryd is een wat die spelers lank sal onthou.

Volgens Cassiem kon hy kwalik sy emosies beteuel toe die fluitjie blaas.

“Ek het sommer spontaan in trane uitgebars. Dit was ’n emosionele kragmeting en dit is definitief vir al die ondersteuners by die huis,” het Cassiem gesê.

“Dit was ’n ongelooflike wedstryd. Ons het geglo ons kan dit doen en die ouens weet nou hoe dit voel [om ’n sterker span te klop],” het Drummond gesê.

“Ons gaan hierdie oomblik geniet, maar ons moet ook vir môre se groot wedstryd voorberei.”

Die Suid-Afrikaners speel môre in ’n groepwedstryd teen Kanada om 05:15. Die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

  • Hoe sake tans in Groep B by die Spele lyk:
  1. België 12 punte
  2. Nederland 7 punte
  3. Groot-Brittanje 7 punte
  4. Duitsland 6 punte
  5. Suid-Afrika 3 punte
  6. Kanada geen punte nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

piet ·

Een swaeltjie maak nie ‘n somer nie. Ons wen een en verloor al die ander wedstryde met rekordtellings.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.